|

AfriForum rig vertoë aan Tshwane-metro om biblioteke op Saterdae oop te hou

Klankgreep: Alana Bailey (Afrikaans)

Klankgreep: Alana Bailey (Engels)

AfriForum het vandag ’n skrywe aan die Tshwane-metro gerig om te versoek dat biblioteke in Pretoria en Centurion op Saterdae oopbly. Dit volg in reaksie op die metro se kennisgewing dat biblioteke vanaf 10 Mei 2025 op Saterdae gesluit sal wees.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, is biblioteke steeds ’n noodsaaklike bron van inligting en vermaak vir ’n groot deel van die gemeenskap wat nie geredelik toegang tot data en digitale of gedrukte boeke het nie, of om welke redes ook al verplig is of verkies om gedrukte boeke te lees.

“Boeke en data is baie duur, dus kan mense wat welaf is wel sonder biblioteekdienste klaarkom, maar vir die mees kwesbares in die gemeenskap is dit hulle enigste bron van toegang tot publikasies oor feite en fiksie, asook selfs konneksie en aanlyn bronne. Om dié rede is dit nodig dat biblioteke in Pretoria en Centurion oor naweke toeganklik moet wees,” meen sy.

AfriForum het vandeesweek ’n aanlyn peiling onderneem om die publiek se kommentaar oor die beplande sluiting op Saterdae in te win. Die meerderheid van die respondente is ten gunste van die oophou van munisipale biblioteke. Van die terugvoer was onder meer:

  • “Biblioteke moet oop bly oor naweke, want ouers wat werk en kinders wat skoolgaan kan moontlik slegs dan biblioteke besoek.”
  • “My ma lees baie en ek kan nie bekostig om vir haar so baie boeke te koop nie. Die biblioteek is die enigste antwoord vir haar en ek kan haar net Saterdae neem.”
  • “Ja verseker. almal werk in die week. Saterdae MOET OOP WEES ASB!”

Bailey spreek ook kommer uit oor biblioteke landswyd wat gebuk gaan onder krimpende begrotings. “Dikwels word al minder nuwe boeke aangekoop, wat die relevansie van biblioteke benadeel. Mense wat dit nie kan bekostig nie, moet ook die geleentheid kry om die jongste publikasies onder oë te neem. Alle boeke is nie noodwendig digitaal beskikbaar nie, dus geld die verskoning dat hulle maar planne moet maak om dit aanlyn te vind, nie.”

“Suid-Afrikaners het reeds ’n reputasie as mense wat te min lees. Met die afskaling van biblioteekure en die verskraling van biblioteekversamelings sal dié probleem net vererger,” sê Bailey.

Soortgelyke plasings