| |

AfriForum rig dringende betoog vir prioritisering van plaasaanvalle kragtens Polisiewet

Klankgreep: Jacques Broodryk (Afrikaans)

Soundbite: Jacques Broodryk (Engels)

AfriForum het vandag ingevolge artikel 17(d) van die Polisiewet ’n dringende betoog gerig aan die nasionale polisiekommissaris, genl. Fannie Masemola, om plaasaanvalle as ’n nasionale prioriteitsmisdaad te klassifiseer. AfriForum hou vol dat die feitelike realiteite van plaasaanvalle die erns en dringendheid van die prioritisering daarvan noodsaak en derhalwe kragtens die mandaat van die direktoraat van prioriteitsmisdade (Valke) die gespesialiseerde ondersoekvaardighede van dié direktoraat vereis.  

In die brief wat Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid, vandag aan Masemola gerig het, word die wetlike regverdiging vir die prioritisering van plaasaanvalle, soos uiteengesit in die Polisiewet, volledig uiteengesit. Daarvolgens word aangevoer dat plaasaanvalle op grond van die georganiseerde aard en die nasionale impak van die misdade gespesialiseerde vaardighede, koördinering, toegewyde ondersoekkapasiteit en polisiehulpbronne noodsaak. Die invloed van plaasaanvalle op die stabiliteit in die land en die publiek se vertroue in die regering se vermoë om menselewens en eiendom te beskerm, word as verdere regverdiging vir AfriForum se aansoek vir die dringende prioritisering van plaasaanvalle voorgehou.

As deel van die betoog vir die prioritisering van plaasaanvalle, beveel AfriForum die stigting van ’n toegewyde taakspan in die Valke aan wat die ontwikkeling van ’n strategie vir landelike misdaad sowel as misdade wat met plase verband hou sal bewerkstellig. Dié taakspan moet ook samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se landelike veiligheidseenhede, landbouverenigings en privaatveiligheidsagentskappe koördineer, die behoorlike boekstawing, nasporing en analisering van plaasaanvalle verseker en, waar van toepassing, politieke opswepery ten opsigte van plaasaanvalle ondersoek.

In AfriForum se voorlegging aan Masemola word benadruk dat plaasaanvalle nie bloot ’n geïsoleerde tipe misdaad is nie, maar in werklikheid verreikende implikasies vir die direkte landelike gemeenskap sowel as Suid-Afrika in die breë inhou. Plaasaanvalle word volgens AfriForum gekenmerk deur uitermatige vlakke van geweld; geteikende aanvalle op kwesbare en geïsoleerde gemeenskappe; en bevat elemente van politieke opsweping wat openlik geweld teen boere aanmoedig. Daarbenewens het plaasaanvalle ’n noemenswaardige invloed op die plaaslike ekonomie; hou ernstige implikasies in vir voedselsekerheid en het ook op sielkundige en maatskaplike vlak ’n noemenswaardige destabiliserende effek wat tot die ontvolking van die landelike gebiede, werksverliese en uiteindelik ekonomiese agteruitgang lei.

Broodryk wys daarop dat die SAPD vandeesweek, tydens hul eerste Nasionale Polisiëringsberaad, die ideale geleentheid het om hierdie brandende vraagstuk in oënskou te neem. “Plaasaanvalle word reeds jare lank deur politici en leiers in die SAPD geïgnoreer, ten spyte daarvan dat die SAPD al voorheen verklaar het dat plaasaanvalle ’n unieke reaksie vereis. Dit is nou tyd om hierdie reaksie te implementeer,” beklemtoon hy.

“President Cyril Ramaphosa, dieselfde persoon wat voorheen in die openbaar aangevoer het dat daar nie iets soos plaasaanvalle is nie, het gister in sy openingsrede van die beraad gesê dat burgers van die land in stedelike én landelike gebiede moet kan sê dat hulle op enige gegewe tyd veilig voel. Vir die landelike gemeenskap kan hierdie strewe slegs bereik word deur die prioritisering van plaasaanvalle. Dit is tyd om politiekery te laat staan en daadwerklike stappe te doen in die belang van Suid-Afrika en sy mense,” sluit Broodryk af.  

Soortgelyke plasings