AfriForum rig 36ste herwinningstasie in Kemptonpark op
AfriForum se Kemptonpark-tak het op 8 Julie sy 36ste herwinningstasie in die stad opgerig om die gemeenskap te help te midde die huidige vullisverwyderingskrisis. Die tak het in 2016 begin om dié stasies in verskeie toegewyde gebiede in Kemptonpark te plaas waar die gemeenskap herwinbare materiale soos papier, plastiek, glas en metaal kan weggooi. Die doel van hierdie herwinningsprojek is om die druk op die oorvol vullisterreine te verminder.
Die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit sukkel reeds die afgelope paar jaar met die bestuur van vullisverwyderingsdienste – van die verwydering tot die verwerking daarvan, wat gevolglik meer druk op die kapasiteit van vullisterreine plaas. Dit lei uiteindelik tot onwettige vullisstorting in woonbuurte en oop stuk gronde, wat ’n gesondheidsrisiko inhou. Dit hou ook ’n brandgevaar in, veral tydens droë seisoene.
Die herwinningstasies is op die persele van verskeie skole en kerke geplaas waar dit ’n geleentheid vir gemeenskapsbetrokkenheid skep. Leerlinge kan van ’n jong ouderdom af deelneem aan die projek, wat hulle in staat stel om meer te leer oor herwinning en dat dit tot ’n skoner omgewing bydra. Private instansies diens die stasies op ’n weeklikse of tweeweeklikse basis.
“Daar is ’n omgewingskrisis weens die oorvol vullisterreine in Ekurhuleni. Ons kan nie meer op die Ekurhuleni-metro staatmaak om hul vullisverwyderingsdienste op standaard te bring nie. Dit is in AfriForum se belange om te verseker dat mense die reg het tot ’n gesonde omgewing, daarom fokus die herwinningsprojek nie net op die hede nie maar ook op die toekoms,” sê Nadia Olckers, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.
Die Kemptonpark gemeenskap kan gerus kontak maak met die AfriForum-tak vir meer inligting oor die herwinningstasies. Kontak Jan Vermaak by 082 605 1311.