|

AfriForum: Regering se benadering tot waterbesoedeling los nie kernoorsake op nie

AfriForum meen dat die regering moet werk maak daarvan om die kernoorsake van waterbesoedeling die hoof te bied eerder as om die simptome te behandel. Dit volg ná Sello Seitlholo, adjunkminister van Water en Sanitasie, vroeër gesê het dat gemeenskappe en die privaat sektor moet help om die waterbesoedelingkrisis, veral ten opsigte van hiasinte en waterslaai, op te los. Volgens AfriForum neem hierdie stelling nie mislukte munisipale rioolwaterinfrastruktuur en die regering se onvermoë om omgewingswette doeltreffend af te dwing in ag nie – hierdie faktore lei óf direk tot waterbesoedeling óf vererger waterbesoedeling.

Grootskaalse, gemeenskapsgedrewe opruimingsaksies om hiasinte te verwyder los nie die sistemiese mislukkings op van rioolsuiweringsaanlegte wat miljoene liters rou riool in Suid-Afrika se riviere te stort nie. Die Zandspruit-rioolsuiweringsaanleg stort meer as 30 miljoen liter onbehandelde riool in die Jukskeirivier – dit is slegs een voorbeeld van hoe swak infrastruktuur die besoedelingskrisis vererger.

Voorts is die hiasinte wat tans die Blesbokspruitvleilande en Vaalrivier-keerdam besmet nie die oorsaak van besoedeling nie, maar eerder die gevolg van oormatige voedingstowwe in onbehandelde riool en industriële afval. Sonder behoorlike instandhouding en belegging in rioolsuiweringsstelsels sal hierdie hiasinte aanhou versprei ten spyte van pogings om dit biologies of met gewone handearbeid te probeer verwyder.

“Die uitkomste sal dieselfde bly as ons aanhou om die simptoom te behandel en nie die probleem nie. As ons vandag die rivier skoonmaak sal daar more weer dieselfde hoeveelheid hiasinte wees, die stryd gaan nie só gewen word nie,” sê Lambert de Klerk, bestuurder van Omgewingsake by AfriForum.

Die Departement van Water en Sanitasie moet beslissende stappe doen om munisipaliteite aanspreeklik te hou vir voortgesette oortredings van die Nasionale Waterwet. Beloftes van monitering en nakoming beteken min as geen werklike gevolge die skuldige munisipaliteite in die gesig staar nie. Die besoedelaar-betaal-beginsel moet streng afgedwing word – nie net teen nywerhede nie, maar ook teen munisipaliteite wat herhaaldelik versuim om aan waterbehandelingstandaarde te voldoen.

“Munisipale amptenare moet in hul persoonlike hoedanigheid verantwoordelik gehou word vir hierdie misdade, eers dan sal ons werklike verandering begin sien,” sluit De Klerk af.

AfriForum doen ’n beroep op gemeenskappe om eienaarskap van hul watersekerheid te neem en hul plaaslike regerings aanspreeklik te hou. Waar die staat misluk, moet private en gemeenskapsgedrewe inisiatiewe intree om te verseker dat waterbronne beskerm word. AfriForum sal voortgaan met sy pogings om besoedeling te moniteer, regeringsentiteite te druk om gehoor te gee aan voldoeningstandaarde, en veg vir werklike oplossings wat die wortel van Suid-Afrika se waterkrisis sal aanroer.

Soortgelyke plasings