|

AfriForum reël skoonmaakprojek by Pretoria-Noord-hof sommer tjop-tjop

AfriForum se Noord van die Berg-tak kon op 30 Mei daarin slaag om in ’n japtrap ’n aksie te reël om die perseel van die Pretoria-Noord-landdroshof skoon en begaanbaar te maak. Binne ’n kwessie van 30 minute is daar met al die rolspelers gekoördineer en die werk kon begin. Hierdie aksie volg nadat AfriForum ’n dringende behoefte aan ’n opknapping van die hof se perseel geïdentifiseer het.

Met behulp van The Renovation Specialist, wat ’n laaigraaf beskikbaar gestel het, is die oorgroeide gras en bosse doeltreffend verwyder. Daarna het AfriForum se Noord van die Berg-buurtspan ingespring en die gras gesny en verdere opknappings aan die terrein gedoen. Dié spanpoging is ’n uitstekende voorbeeld van hoe gemeenskappe hulpbronne en vaardighede kan mobiliseer om praktiese verandering in hul omgewing aan te bring.

Terwyl die span gewerskaf het, het die Tshwane-metropolisie en die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), ’n wakende oog gehou om hul veiligheid te verseker. Hul teenwoordigheid het dit moontlik gemaak dat die laaigraaf veilig op die terrein kon werk sonder enige ontwrigting of risiko.

“Ons is trots daarop dat ons so vinnig kon optree en met ander rolspelers saamwerk om hierdie terrein, wat vir lank verwaarloos was, weer tot sy reg te laat kom. Wanneer ’n gemeenskap saamstaan, is geen taak te groot nie,” sê Willem Klooster, voorsitter van AfriForum se Noord van die Berg-tak.

AfriForum bedank The Renovation Specialist vir hul waardevolle bydrae, asook die metropolisie en die GPF vir hul ondersteuning. Daarbenewens spreek AfriForum sy waardering uit teenoor die buurtspan wat hul tyd en energie opgeoffer het om hierdie projek suksesvol af te handel.

Hierdie inisiatief dien as bewys van wat moontlik is wanneer gemeenskappe self verantwoordelikheid neem en met trots na hul omgewings omsien.

Soortgelyke plasings