AfriForum pak waterprobleme in Mpumalanga
Al hoe meer dorpe in Mpumalanga gaan gebuk onder waterprobleme weens munisipaliteite se onvermoë om die mas op te kom. Krane loop dikwels leeg en laat inwoners soms weke lank sonder water. AfriForum se takke in dié provinsie is egter al lankal besig om alternatiewe oplossings in te stel om dié nood te verlig.
Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld, verduidelik dat die omvang van die probleme veel groter is as wat baie mense besef. “Daar is ’n klomp dorpe in verskeie munisipaliteite wat ernstige probleme ondervind. Boonop lei die agterstand in betalings aan Rand Water en aaneenlopende instandhouding tot lae waterdruk. Dit is soms so erg dat daar eenvoudig geen water is nie. Daar is vermoedelik ook ander strafmaatreëls wat teen munisipaliteite met agterstallige rekenings ingestel word wat uiteindelik tot ’n reusetekort aan water lei.”
Volgens Bekker word instandhouding telkens aangekondig, en hoewel dit net veronderstel is om ’n paar dae te neem, sit sommige dorpe soms weke sonder water. Die betrokke munisipaliteit word skynbaar op hierdie manier gestraf, maar dit is hoofsaaklik inwoners van die betrokke dorpe wat die swaarste daaronder ly. In Bethal het inwoners byvoorbeeld oor ’n tydperk van drie maande slegs 30% van die water wat hulle veronderstel was om te kry, ontvang.
“Een van die groot knelpunte is dat inwoners dikwels amper geen waarskuwing van wateronderbrekings kry nie. En hoewel die munisipaliteit watertenkwaens na die dorp stuur, gebeur dit op ongeleë tye wat dit vir inwoners bykans onmoontlik maak om daarby uit te kom. Die volume water wat so voorsien word, is boonop nie naastenby genoeg om te voldoen aan die vraag nie,” verduidelik Bekker.
Benewens dié uitdagings is daar, volgens Bekker, ook gerugte dat water uit die tenkwaens verkoop word of sommer uit ’n dam getrek word.

Wat doen AfriForum om te help?
- In die Govan Mbeki en Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteite het AfriForum ’n regstryd teen Rand Water aan die gang wat reeds dié waterverskaffer verbied om watertoevoer na dorpe in hierdie munisipaliteite te verminder.
- AfriForum het reeds noodwaterpunte in Standerton, Bethal, Delmas, Eloff en Sundra opgerig. In Bethal het AfriForum ’n samewerkingsooreenkoms met plaaslike boere om gratis water aan die noodwaterpunte te verskaf. Meer as een miljoen liter water is reeds in 2026 aan Bethal se inwoners voorsien.
“Ons is gelukkig dat die boere in die Bethal-omgewing ons só goedgesind is en water gratis aan ons beskikbaar stel en aflewer. Daar is ook verskeie ondernemings wat al gehelp het deur middel van die skenking van tenks, vervoer en dies meer,” sê Bekker.
Dit is gewoonlik die armste mense wat die swaarste trek as daar probleme is.
“Party mense daag per voet by ’n noodwaterpunt op om net ’n paar emmers vol te maak, maar daar is ook mense met die blinkste, duur motors wat kom water tap omdat daar geen ander opsie is nie. Ek dink die enigste manier om op die lang termyn watervoorsiening te verseker, is vir inwoners om direkte betalings te maak aan waterverskaffers of privaat instansies, en nie die munisipaliteit nie. Sodoende word die inwoner nie gestraf vir die munisipaliteit se wanbetalings, wanbestuur of agterlosigheid nie. AfriForum sal aanhou om bystand te bied aan inwoners totdat dié kritieke uitdagings ten opsigte van watervoorsiening opgelos is,” sluit Bekker af.



