Vasbyt, vastrap én vereer: Springbok Vasbyt-wedloop weer om die draai, dié keer ter ere van die diere van oorlog
Deur Ilze Nieuwoudt
Byna twee dekades lank al sak atlete van oraloor jaarliks op die Voortrekkermonument-terrein buite Pretoria toe vir die ikoniese Springbok Vasbyt-wedloop. Dié wedloop – sedert 2023 bekend as die Leon Bezuidenhout Springbok Vasbyt, ter ere van die wedloop se stigter wat in 2020 oorlede is – is egter nie net nog ’n padwedloop nie. Dit is ’n wedloop wat nie net atlete se uithouvermoë toets nie. Dit is ’n wedloop wat ook op ’n unieke manier hulde bring aan militêre helde uit die Suid-Afrikaanse verlede wat in die uithoeke van die wêreld as soldate getoets is, en telkens die hoogste prys daarvoor betaal het.

AfriForum is reeds sedert 2012 die hoofborg van die Leon Bezuidenhout Springbok Vasbyt. (Klik hier vir meer inligting oor vanjaar se wedloop wat op 11 Julie aangebied word.)
Volgens Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum, is dit vir AfriForum belangrik om by hierdie wedloop betrokke te wees en mense wat “groot opofferings ter wille van ons land gemaak het” en in die vergetelheid sou raak, te onthou.
Vanjaar se wedloop wyk egter af van die verering van mense, en verskuif sy fokus na die vierpotige of geveerde helde van die verlede.
Joep Joubert, wedlooporganiseerder, verduidelik dat militêre dierehelde ’n belangrike rol in vanjaar se wedloop gaan speel. Drawwers wat die 10 km- en 21 km-wedlope aandurf, se roete loop onder meer verby die Diere van die oorlog-gedenkteken in die Tuin van Herinnering op die monument se gronde en as deel van ’n seremonie voor die wedloop afskop, sal ’n hond ’n kranslegging doen.
Oor waarom diere hierdie verering verdien, is Bailey duidelik: “Diere het veel minder van ’n keuse as mense om in oorlog betrokke te raak, of selfs na afloop van militêre aksies soos die honde en rotte wat nou nog wêreldwyd landmyne uitsnuffel en so steeds lewens red. Tog lewer hulle uitnemende diens. Dikwels ook ondankbare diens – soos perde, muile en donkies wat ná oorloë soms summier geskiet word, of honde wat te oud vir diens word en ’n onsekere lot in die gesig staar. Hulle verdien om ook onthou te word en erkenning vir hul diens te kry en mense moet herinner word aan ons ereskuld teenoor diegene wat nie ’n stem het nie.”
Diere van oorlog: Van honde en perde tot voëls en (glo dit of nie) bobbejane
Die geskiedenis van diere betrokke by aktiewe militêre diens in oorloë waarin Suid-Afrika in die verlede gewikkel was, is voorwaar kleurvol. En hoewel die gebruik van diere in oorloë al duisende jare lank voorkom, is die verskeidenheid diere wat al deur Suid-Afrikaners ingespan is as “soldate” en gelukbringers uiteenlopend.
Die webblad www.animalsinwar.co.za (die amptelike blad van die Diere van die oorlog-gedenkteken) bied ’n omvangryke uiteensetting van diere wat gedien het in oorloë waarby Suid-Afrika betrokke was en lys onder meer perde, duiwe, honde, kamele en selfs rotte en katte as getroue “soldate” in tye van oorlog.
Hier is enkele feite oor bekende en minder bekende viervoetige of geveerde “krygers” uit die Suid-Afrikaanse verlede:
Perde

Die gebruik van perde in oorloë het tot in die onlangse verlede algemeen voorgekom en plaaslik het die perd in veral die Anglo-Boereoorlog (1899–1902) ’n noemenswaardige rol gespeel. Hoewel daar nie met sekerheid gesê kan word hoeveel perde aan Boerekant ingespan is nie, het die Britte streng rekord gehou van hul perde en muile – waarvan onderskeidelik meer as 320 000 en 51 000 in dié driejarige oorlog omgekom het.
Honde
Die mens se beste vriend was deur die eeue heen nie net sy vriend in tye van vrede nie, maar ook telkens sy kameraad in tye van oorlog. In die oorloë wat sedert die begin van die 20ste eeu gewoed het, het honde onder meer as boodskappers, wagte, snuffelhonde (vir landmyne en menslike oorskot), spoorsnyers en soek-en-reddingswerkers diens gedoen.
In die Suid-Afrikaanse militêre konteks het honde deur die jare ook ’n groot bydrae gemaak en vanjaar word Leeu, die eerste hond van die Suid-Afrikaanse Polisie (SAP) wat tydens dié oorlog dood is, spesifiek deur die Springbok Vasbyt-wedloop gedenk.
Leeu en sy hanteerder, sersant Tjaart Riekert van die SAP se Durbanse Honde-eenheid, is vanjaar 54 jaar gelede, op 30 Maart 1972 dood in ’n landmynontploffing in die Caprivi-strook, tydens ’n teeninsurgensie-patrollie.
(’n Totaal van 38 bevestigde gevalle van honde wat tydens konfliksituasies dood is, is by die Diere van die oorlog-gedenkteken gelys.)
Jackie die bobbejaan

Bobbejaan klim dalk die berg, so haastig en so lastig, maar wat van ’n bobbejaan geklee in ’n uniform wat op die skip klim en oorlog toe gaan? Dit klink dalk soos iets uit ’n kinderverhaal, maar dit is presies wat met die Pretorianer Albert Marr se bobbejaan, Jackie, gebeur het.
Toe Marr in 1915 tydens die Eerste Wêreldoorlog opgeroep is om by die 3de Transvaalse Regiment aan te sluit, het hy toestemming gekry om Jackie saam te neem. Die oorlog het Jackie na Noord-Afrika en Frankryk geneem. Hy het onder meer die gewonde Marr tydens die Slag van Agagia in Egipte bygestaan en sy wonde gelek. Later is Jackie ernstig gewond en sy een boot is geamputeer. Hy is selfs later tot die rang van korporaal bevorder vir sy heldhaftigheid en is uiteindelik in 1921 oorlede.
Nancy die springbok
Die Eerste Wêreldoorlog het ook kennis gemaak met Nancy, die springbok van die Vrystaat ná sy deur haar eienaars, die McLaren-Kennedy-familie, beskikbaar gestel is vir militêre diens. In ’n brief aan ’n hooggeplaaste weermaggeneraal het mev. McLaren-Kennedy aangebied dat Nancy, die gesin se troetelbok, aangeneem word as ’n gelukbringer vir die weermag om soldate aan Suid-Afrika te herinner. Haar aanbod is aanvaar en kort daarna is Nancy se weermagopleiding afgeskop en is sy geleer om op die regiment se roepe te reageer en haar skaflik te gedra tydens haar militêre diens.
Nancy het uiteindelik na Engeland, Noord-Afrika en later Frankryk gereis. In ’n artikel op die webblad Observation Post, word Nancy se oorlogsdae in fyner detail uiteengesit. Ook haar laaste seremoniële parade word hier treffend beskryf (hier vertaal):
Die hoogtepunt van Nancy se voortreflike militêre loopbaan en oorlogsrekord het op 17 Februarie 1918 aangebreek toe sy haar laaste seremoniële parade bygewoon het. Sy het met trots vier bataljons van die Suid-Afrikaanse Brigade na die eerste herdenkingsdiens by Delvillebos gelei, terwyl sy op haar skraal beentjies gedraf het. Dit was asof sy geweet het dat sy die liefling van elke soldaat op parade was – sowel as van diegene wat hulle gekom het om te vereer.

Nancy is in November 1918 in Frankryk dood aan pneumonie en is die enigste dier in Suid-Afrika se kleurvolle militêre geskiedenis om met volle militêre eerbewys en in ’n oorlogsbegraafplaas begrawe te word.



