|

AfriForum pak reeks skoonmaakprojekte en massapatrollie in Bloem aan

AfriForum se Bloemfontein-takke het gedurende Junie deur ’n reeks skoonmaakprojekte meer as 33 000 vierkante meter se grondgebied netjies gemaak en minstens 3 200 sakke vol vullis verwyder. Dit sluit in reaksies op die munisipaliteit se versuim om dienste te lewer, veral in woonbuurte soos Hospitaalpark, Fichardtpark en Uitsig, waar AfriForum se vullisverwyderingspanne vinnig en doeltreffend opgetree het as deel van die organisasie se #HerstelEnVersnel-veldtog. Historiese terreine, waaronder die Ou Presidensie en die Pres. Brand-begraafplaas, is ook skoongemaak, asook verskeie parkeerterreine in Wilgehof, Pellissier, Lucas Steyn en Langenhovenpark.

AfriForum se buurtwagte het ook hul teenwoordigheid met duidelike resultate versterk. Tydens die organisasie se landwye massapatrollie op 20 Junie is meer as 3 000 kilometer in 48 voertuie in Bloemfontein afgelê. Die AfriForum911-reaksie-eenheid, in noue samewerking met AfriForum se Gemeenskapsveiligheidsentrum (GVS) in Bloemfontein, was deurgaans paraat en het op verskeie noodsituasies gereageer. In totaal is agt arrestasies gemaak, daar is gehelp om drie brande te bestry en daar is op 11 mediese noodgevalle gereageer.

Die beheerkamer het ook 76 AfriForum911-reaksie-eenheid-voertuie gekoördineer, terwyl 27 telefoniese klagtes en 69 versoeke via WhatsApp suksesvol afgehandel is. Daarbenewens is agt klagtes via nasionale digitale handradio’s opgeteken en afgehandel. Hierdie statistieke is ’n duidelike bewys van ’n goed geoliede stelsel wat gemeenskapsveiligheid op alle vlakke ondersteun.

Buiten die arrestasies tydens die massapatrollie, was daar verskeie ander suksesvolle arrestasies in Junie, dikwels danksy gemeenskapslede wat waaksaam bly en inligting betyds deurgee. AfriForum911, in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en plaaslike- en AfriForum-buurtwagte, het verdagtes vir koperkabeldiefstal in Uitsig, inbrake in Wilcocksstraat en gewapende rooftogte vasgetrek. In een noemenswaardige voorval het patrolleerders in Bloemfontein-Noord selfs ’n vrou se lewe gered deur tydige kardiopulmonêre resussitasie toe te pas ná ’n voorval van huishoudelike geweld.

Die Mangaung-brandbeskermingsvereniging het ook AfriForum se brandbestrydingspan opgelei om veldbrande te bestry. Intussen het AfriForum Jeug se plaaslike tak op 16 Junie in samewerking met verskeie buurtwagte en nooddienste bewusmaking oor veiligheid geskep. AfriForum se buurtwag in Fichardtpark het ook ’n praktiese volkskietdag vir sy lede aangebied waar vuurwapenvaardighede versterk is.

Gemeenskapsveiligheid is verder versterk deur inligtingsaande in onder meer Hospitaalpark en deur die konstante teenwoordigheid van patrolleerders oor Bloemfontein se voorstede en landelike gebiede heen.

“Die suksesse wat ons in Junie behaal het, wys wat moontlik is wanneer ’n gemeenskap betrokke raak en saamstaan. Veiligheid, netheid en herstel kan nie aan die staat oorgelaat word nie; dit begin by elkeen van ons. Elke vullissak wat verwyder word, elke verdagte wat gearresteer word en elke kilometer wat gepatrolleer word, is ’n klip in die fondament van ’n sterker, selfstandige gemeenskap. Ons doen ’n beroep op elke inwoner om deel te raak van hierdie beweging want saam maak ons die verskil,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder in Bloemfontein.

AfriForum se Bloemfontein-strukture bedank elke vrywilliger, ondersteuner en lid van die gemeenskap vir hul bydrae.

Soortgelyke plasings