AfriForum opper kommer oor haweloses buite Durbanville-polisiestasie
AfriForum se Durbanville-tak het die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in Durbanville versoek om ondersoek in te stel na die verskeie openbare-orde-oortredings wat tans voor dié polisiestasie en die omliggende gebied plaasvind. Bedrywighede by hierdie polisiestasie word toenemende ontwrig deur haweloses wat hulself in die omgewing van die polisiekantoor, poskantoor, bushaltes en skole vertoef.
Volgens Richard Downing, buurtwagleier van AfriForum se Durbanville-buurtwag, het sowat 20 persone hulself permanent op die sypaadjies en tuine rondom die polisiestasie gevestig. Hoewel AfriForum sedert 2023 nou saam met organisasies soos Mould Empower Serve (MES) en die departement van Maatskaplike Ontwikkeling werk om ontheemdes te help, moet wet en orde steeds gehandhaaf word.
“AfriForum se Durbanville-tak help al geruime tyd in die stryd teen Durbanville se groeiende haweloosheidsprobleem. Die tak het selfs daarin geslaag om in samewerking met ander organisasies die aantal haweloses in die gebied van 75 mense tot ongeveer 34 te verminder. Die tak deel ook gereeld Mi-Change-koopbewyse uit en moedig mense aan om by MES-programme betrokke te raak, maar daar is egter perke tot wat ’n burgerlike organisasies alleen kan vermag,” sê Downing.
Openbare urinering en ontlasting is ’n voortdurende probleem by die haweloses wat die gebied om die Durbanville-polisiestasie onregmatig beset. Tydelike strukture word ook op sypaadjies opgerig, wat in stryd is met munisipale verordeninge. Die groep tap ook gereeld water onregmatig van ’n naburige kerk, het toegang tot die SAPD se agterkantoor en intimideer boonop lede van die publiek wat die polisiestasie besoek.
As deel van Durbanville se buurtwagstrukture, is AfriForum se fokus op die voorkoming en bekamping van misdaad. Die burgerregteorganisasie is daarom bekommerd dat daar geen sigbare optrede teen die individue is nie. AfriForum het ’n beroep op owerhede gedoen om die stad se verordeninge toe te pas, sodat ontheemdes nie die sypaadjie van die polisiestasie as ’n toevlugsoord gebruik nie.
“AfriForum kan nie toekyk hoe die laaste linies van orde in ons gemeenskappe afgetakel word nie. AfriForum sal voortgaan om die gemeenskap se belange te bevorder totdat dit ernstig opgeneem word,” sê Jurie Ferreira, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Weskus.
AfriForum se Durbanville-tak verwelkom die moontlikheid om ’n konstruktiewe gesprek met die leierskap van die SAPD te hê oor die kwessie. Die Durbanville-tak het al by verskeie geleenthede positiewe samewerking met die SAPD in Durbanville gehad, soos met die onlangse verfraaiing van dié polisiestasie.
“AfriForum sal saam met die SAPD werk om oplossings te vind en te verseker dat dit volhoubaar, menswaardig en wetlik gegrond is,” voeg Ferreira by.
Besoek sluit-aan.afriforum.co.za om by AfriForum se strukture in Durbanville betrokke te raak.