AfriForum maak merkbare verskil in Pretoria, terwyl Tshwane-metro se dienslewering “vermis” is
Terwyl inwoners wag op die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit om die dienste te lewer waarvoor hulle betaal, gaan AfriForum voort met skoonmaakprojekte en instandhoudingswerk in Pretoria en Centurion. Sedert die begin van die jaar tot nou, werk AfriForum se Centurion-, Groter Moot-, Noord van die berg-, Moreletapark- en Garsfontein-buurtspanne onverpoos om gemeenskappe die skoon en veilige gebiede te gee wat hulle verdien.
In 2025 het hierdie buurtspanne al 232,5 hektaar se gras gesny, 1 286 sakke gras verwyder, 27 140 kg se afval en rommel weggery, 12 500 kg se vullis verwyder, 21 794 kg se teer gebruik om paaie te herstel, sowel as 328 liter padverf op padmerke oor te verf.
“Hierdie is nie net mooi statistieke nie maar tasbare bewyse dat Pretoria se burgers en buurtspanne bereid is om self in te spring as die metro nie hul werk doen nie,” sê Llewellyn Hemmens, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Noord. “Indien die Tshwane-metro se dienste eendag heeltemal in duie stort, is ons gereed om aan te hou met ons werksaamhede om die verval te keer.”
AfriForum beklemtoon dat hierdie benadering nie net ’n reaksie op verval is nie, maar ’n strategiese plan om gemeenskappe te bemagtig.
“Ons visie is eenvoudig: Ons wil in ’n skoon en veilige gebied woon, wat in stand gehou word. Ons is trots om self daarvoor te sorg, hoewel ons graag saam met die Tshwane-metro wil werk om op die ou einde meer vir inwoners te doen,” sluit Hemmens af.
AfriForum doen ’n beroep op inwoners om deel te word van hierdie beweging. Elke rand en elke hand help om die Tshwane-metro van verval te red. As die metro dit nie gaan doen nie, sal gewone burgers en toegewyde buurtspanne dit self doen.



