AfriForum laat sy stem in Oos-Kaap hoor oor buitensporige kragtariefverhoging
AfriForum het die afgelope paar weke aan die openbare raadplegingsessies oor Eskom se voorgestelde kragtariefverhoging van 36,15% deelgeneem en eerste sy stem hieroor in die Oos-Kaap laat hoor. Die burgerregteorganisasie het op 20 November sy geskrewe kommentaar oor die tariefverhoging tydens die openbare raadplegingsessie in Port Elizabeth ingedien. AfriForum het in sy formele kommentaar dié buitensporige tariefverhoging teengestaan.
AfriForum het op die ernstige ekonomiese en maatskaplike gevolge van Eskom se voorgestelde tariefverhoging gewys en beklemtoon hoe die beplande kostes kwesbare gemeenskappe, en veral lae inkomste-huishoudings, wat reeds ’n groot deel van hul inkomste aan elektrisiteit bestee, buitensporig sal belas. Boonop is stygende elektrisiteitskoste die dryfveer van koste-inflasie, wat die prys van noodsaaklikhede verhoog en armoede en ongelykheid vererger.
“Soos elders in die land kan die inwoners van die Oos-Kaap dit doodeenvoudig nie bekostig dat die buitensporige tariefverhoging deur Nersa goedgekeur word nie. Die situasie by Eskom, wat oor die jare heen versleg het weens wanbestuur, kan nie deur hierdie tariefverhoging beredder word nie,” sê Louis van der Vyver, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Kaap.
Eskom het sy voorgestelde tariefverhoging vir die volgende drie jaar aan die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) voorgelê. Die publiek het tot gister (Woensdag) gehad om kommentaar daarop te lewer.
AfriForum se bestuurder van Plaaslikeregeringsake, Morné Mostert, het tydens die openbare raadplegingsessie in Gauteng gister sy kommer uitgespreek oor Eskom se ondoeltreffendheid en ernstige bestuursmislukkings. “Nersa moenie net strenger nakoming van regulatoriese raamwerke afdwing nie, maar moet self ook omsigtigheidstoetse by Eskom doen, wat sal verseker dat wettige uitgawes slegs by die tariefberekeninge ingesluit word.”
AfriForum sal die uitkoms van die openbare raadplegingsproses noukeurig moniteer en optree indien daar onbillike gebruike en wanpraktyke opgemerk word.