AfriForum-kommentaar op Parys-GOP weerspieël erns van gebrekkige dienslewering
AfriForum se Parys-tak het amptelik kommentaar ingedien op die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit se Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP) vir 2025/2026, waarin ernstige kommer uitgespreek is oor die stand van basiese dienslewering op die dorp. Die burgerregteorganisasie het benadruk dat die huidige gebrek aan basiese dienslewering onaanvaarbaar is en daarop aangedring dat die munisipaliteit behoorlik begroot om infrastruktuur- en bestuursfoute reg te stel.
“Die GOP moet nie net ’n simboliese dokument wees nie – dit moet die gemeenskap se werklike behoeftes blootlê en konkrete oplossings bied. Ongelukkig reflekteer die huidige GOP nie die erns van Parys se situasie nie,” sê Schalk Burger, voorsitter van die AfriForum-tak in Parys.
AfriForum vra dat die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit sy fokus opnuut verskerp en begroot vir die volgende:
- Kraginfrastruktuur: Die opgradering van kraginfrastruktuur wat op die rand van ineenstorting is. Die GOP bevat geen duidelike plan vir die instandhouding of opgradering van elektriese infrastruktuur nie. Herhaalde kragonderbrekings, oop kragbokse en swak herstelwerk hou gedurig veiligheidsrisiko’s vir inwoners in. Verkeerde koppelings en onveilige substasies veroorsaak skade aan huishoudelike toerusting. Daar moet begroot word vir bevoegde tegnici, behoorlike instandhouding en eindelik die algehele vervanging van die netwerk.
- Waterkrisis: Al die inwoners van Parys, maar veral van Schonkenville en Sisulu, ervaar gereeld wateronderbrekings wat om die beurt ingestel word. Meer dikwels as nie sit hierdie gebiede vir weke lank sonder water. Waterpype bars byna daagliks en swak kommunikasie vanaf munisipale amptenare vererger die krisis. AfriForum dring aan op behoorlike bestuur en pro-aktiewe instandhouding, wat in die begroting uiteengesit moet word.
- Padinfrastruktuur: Reën veroorsaak talle groot en diep slaggate weens jarelange gebrek aan instandhouding. AfriForum het versoek dat die munisipaliteit die begroting vir die instandhouding van paaie aansienlik verhoog om onder meer voorsiening te maak vir herstelwerk en stormwaterbeheer.
- Rioolprobleme: Die bestaande rioolaanleg kan nie die huidige vloei hanteer nie, wat daartoe lei dat rou riool oorspoel. Die aanleg is ook nie behoorlik omhein nie en stel inwoners bloot aan ernstige gesondheidsrisiko’s. ’n Opgradering van die aanleg asook die pompe en rioolpypnetwerk is dringend nodig.
- Onwettige storting: Die stortingsterrein in Parys is onveilig, nie behoorlik omhein nie en funksioneer eintlik glad nie meer nie. Brande breek gereeld uit en afval word onwettig buite die terrein gestort. Hierdie krisis moet met behulp van ’n behoorlike begroting hanteer word.
AfriForum het ’n beroep op die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit gedoen om onmiddellik met die gemeenskap in gesprek te tree en ’n duidelike plan van aksie voor te lê. Die organisasie het ook aangedui dat dit gereed is om self oplossings te dryf, soos wat in talle ander gemeenskappe reeds gedoen is.
“Die inwoners van Parys verdien beter. Hierdie kommentaar is nie net kritiek nie – dit is ’n oproep tot aksie,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.