Water
|

AfriForum hou steeds waterprobleme in Germiston dop, al is water nou skoon

Germiston se water is skoon vir menslike gebruik.

Die AfriForum-tak in Germiston het onlangs watermonsters getoets vanweë die gemeenskap se bekommernisse oor ’n vreemde reuk en vuil voorkoms van die water in sekere gebiede. Die toetsresultate het getoon dat die water wel veilig is.

Alhoewel sommige inwoners probleme met die waterkwaliteit ervaar het, is dit moontlik dat daar tydelike onsuiwerhede in die pype was wat intussen deurgewerk het. Nietemin het AfriForum se Germiston-tak verdere waterkwaliteit-toetsstelle aangeskaf en sal voortgaan om gereeld water te toets indien enige verdere bekommernisse mag ontstaan.

Volgens Jurie Ferreira, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand, sukkel die Germiston-gemeenskap al vir ’n geruime tyd met waterprobleme, waaronder gereelde wateronderbrekings, oftewel beurtwater, in sekere gebiede.

“Die voortdurende waterprobleme in Germiston is ’n groot bron van frustrasie vir inwoners. AfriForum se Germiston-tak moniteer die situasie en neem self verantwoordelikheid om waterkwaliteit na te gaan. Ons wil die gemeenskap gerusstel dat ons aanhou veg vir beter waterdienste en intussen proaktief optree om seker te maak inwoners se gesondheid word nie in gedrang gebring nie,” sê Ferreira.

AfriForum moedig die gemeenskap aan om enige ongewone veranderinge in die watergehalte aan te meld sodat dit spoedig ondersoek kan word.

Stuur ’n e-pos na germiston@afriforumtak.co.za om by AfriForum se Germiston-tak betrokke te raak of besoek sluit-aan.afriforum.co.za om aan te sluit.

Soortgelyke plasings