AfriForum hou munisipaliteite behoorlik aanspreeklik in 2025; beklink rits regsoorwinnings
AfriForum het in met verskeie munisipaliteite in die hof swaarde gekruis oor onder meer swak dienslewering en die instelling van onbillike tariewe. Van die mees noemenswaardige oorwinnings was dié van sake wat AfriForum teen die Mafube en Ngwathe Plaaslike Munisipaliteite en die Johannesburg en Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteite gepak het.
Mafube Plaaslike Munisipaliteit
Inwoners van dorpe wat onder die Mafube Plaaslike Munisipaliteit sorteer, moet al jare lank met min of geen munisipale dienste oor die weg kom. AfriForum en die Mafube-sakeforum (MBF) het egter ingegryp en in Maart verlede jaar het die premier van die Vrystaat en 12 ander respondente bloedneus in die Hooggeregshof in Bloemfontein gekry. Dit volg ná hofbevele van 2021 en 2022 geïgnoreer is en ’n volbank regters bevind het die respondente aan minagting van die hof skuldig is.
Die hof het onder meer die respondente beveel om sonder uitstel ’n finansiële herstelplan te finaliseer en te implementeer, en besoedeling wat die munisipaliteit se rioolsuiweringsaanleg in die Vaal- en Wilgerivier veroorsaak, te stop.
Christa Ikking, AfriForum se koördineerder vir die sentraalstreek, sê die hooffokus van die hofaansoek was om in belang van die munisipaliteit se inwoners op te tree en toe te sien dat dienslewering hier herstel word. “Ons het in ’n groter doel geslaag deur die provinsie te verplig om in te gryp en aan die hof te rapporteer.”
Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit
Verskeie ander dorpe in die Vrystaat gaan ook gebuk onder toenemende swak munisipale dienslewering. In die noordelike deel van die Vrystaat sukkel die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit, soos Mafube, ook al etlike jare lank om die mas van gehalte dienslewering op te kom.
Kragonderbrekings, vuil of geen water in krane, besoedeling en paaie wat verbrokkel, is maar enkele van die probleme waarmee inwoners van die Ngwathe se dorpe – Parys, Heilbron, Koppies en Vredefort – moet saamleef.
AfriForum het die munisipaliteit die stryd aangesê en in Junie 2025 het die Hooggeregshof in Bloemfontein bevind dat Ngwathe nie sy grondwetlike, wetlike en administratiewe verpligtinge teenoor inwoners nakom nie. ’n Interdik het die raad verplig om te ontbind en die Vrystaatse provinsiale regering opdrag gegee om by die munisipaliteit in te gryp. Soos in die geval van Mafube moet ’n herstelplan ook vir Ngwathe geïmplementeer word.
Die munisipaliteit se aansoek om appèl teen die bevel aan te teken, is kort daarna van die hand gewys, maar die munisipaliteit het egter in Augustus ’n aansoek by die Hoogste Hof van Appèl ingedien om die uitspraak omgekeer te kry. Dit is ook van die hand gewys. Die munisipaliteit het hom kort daarna tot die Konstitusionele Hof gewend. AfriForum het intussen in September aansoek gedoen dat die oorspronklike hofbevel hangende Ngwathe se appèlproses geïmplementeer word. Na verwagting sal hierdie aansoek later vanjaar aangehoor word.
Volgens Schalk Burger, voorsitter van AfriForum se Parys-tak, is Parysenaars verheug oor die hofuitspraak wat die munisipaliteit tot verantwoording roep. “Dit was ’n jare lange stryd om tot hier te kom, maar nou is die oorwinning soet. Ons is baie dankbaar vir die ondersteuning van Save Ngwathe en die dorp se inwoners wat ons altyd gehelp het met ons ondersoeke. AfriForum is dalk nie elke dag op die voorgrond in Parys nie, maar agter die skerms het ons werklik baie hard gewerk om by hierdie dag uit te kom.”
Johannesburg-metro
AfriForum en ander applikante het in April verlede jaar die Hooggeregshof in Johannesburg ’n belangrike oorwinning behaal toe die Johannesburg Metropolitaanse Munisipaliteit se 2023/2024-verordening oor eiendomsbelasting, asook die eiendomsbelastingsbeleid met betrekking tot die kategorisering van onderriginstellings, ongrondwetlik verklaar en ter syde gestel is. Volgens hierdie verordening sou privaat skole as openbare ondernemings geklassifiseer word – ’n besluit wat tot ’n drastiese styging in eiendomsbelasting sou gelei het.
Die hof het bevind dat die metro nie sinvol met belanghebbendes – insluitend onafhanklike skole – gekonsulteer het nie, die beste belange van skoliere geïgnoreer het en sodoende artikels 28(2) en 29(1)(a) van die Grondwet oortree het.
“Dit is tyd dat munisipale amptenare besef dat hulle nie net inwoners kan stoomroller en besluite kan afdwing sonder om ’n voldoende deelnameproses te fasiliteer nie. Inwoners is moeg daarvoor om al hoe meer geld op te dok sonder om ’n sê te hê in hoe dit aangewend word,” het Deidré Steffens, AfriForum se adviseur vir plaaslikeregeringsake, oor dié saak gesê.
Tshwane-metro
Sowat 260 000 huishoudings in die Tshwane-metro kon teen die einde van 2025 ’n sug van verligting slaak ná AfriForum in die Hooggeregshof in Pretoria ’n stokkie kon steek voor die metro se stadsreinigingsheffing. Hierdie heffing (ten bedrae van nagenoeg R200) het enkele maande lank op rekeninge verskyn van grondeienaars, huishoudings en ondernemings wat nie van die Tshwane-metro se vullisverwyderingsdienste gebruik maak nie.
Die hof het egter in Julie 2025 bevind dat die heffing onwettig en ongeldig is en die implementering daarvan onmiddellik ter syde gestel. Die metro het hierna verskeie appèlprosesse gevolg en in daardie tydperk die heffing begin implementeer. AfriForum het egter namens die metro se inwoners die stryd enduit gevoer tot die heffing in November finaal gestop is en terugbetalings gemaak is aan geaffekteerde huishoudings en ondernemings.
“Die uitspraak is ’n duidelike bevestiging van dit wat AfriForum uit die staanspoor oor dié heffing gesê het, naamlik dat die Tshwane-metro se instelling van hierdie heffing onwettig én arbitrêr is,” het Steffens gesê.



