Nuuskommentaar: Matriekuitslae en die netelige kwessie van privaatheid
Die afgelope weke was die stryd tussen die Inligtingsreguleerder (IR), Departement van Basiese Onderwys, AfriForum en nuuskanale oor die openbare bekendmaking van matriekuitslae gereeld in die nuus. Die stryd hieroor het al in 2021 ’n aanvang geneem, met verskeie hofuitsprake wat sedertdien onderskryf het dat bekendmaking met leerders se eksamennommers (in plaas van hul name of identiteitsnommers), voldoende beskerming vir hul privaatheid bied. Nogtans betwis die IR hierdie uitsprake en voer aan dat leerders mekaar se nommers gaan memoriseer om toegang te kry tot inligting waarop hulle geen reg het nie.
Sommige beskou hierdie regsaksies as ’n mors van hulpbronne, maar dit skep tog ’n belangrike geleentheid om oor die reg tot privaatheid te debatteer.
Hedendaagse tegnologie het die beskerming van privaatheid al meer ingewikkeld gemaak. Sekuriteitskameras word wyd en syd geïnstalleer, hommeltuie kan kilometers ver duidelike beelde waarneem, elkeen met ’n selfoon kan op enige plek en tyd foto’s neem en hierdie toestelletjies maak dit moontlik om draers daarvan se bewegings akkuraat te volg.
Dan is daar ook nog die kwessie van identiteitsdiefstal.
Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) definieer laasgenoemde as ’n misdaad wat plaasvind wanneer iemand onwettig jou persoonlike inligting gebruik om misdade te pleeg. Die inligtingsplatform Sumsub beweer dat hierdie soort oortredings in 2025 in Suid-Afrika met 31% afgeneem het, wat bewys dat mense meer bedag op risiko’s is en dat inligting al beter deur tegnologie beskerm word. Tog is daar steeds duisende gevalle per jaar.
Vir ander is die tradisie van gepubliseerde resultate van groot belang.
Met matriekuitslae is die risiko vir identiteitsdiefstal of die pleeg van misdade minimaal, maar daar is egter leerders wat vir toegang tot uitslae van openbare nuusplatforms afhanklik is. Vir ander is die tradisie van gepubliseerde resultate van groot belang. ’n Balans moet dus tussen vryheid van spraak tesame met openbare belang by die toegang tot inligting en die beskerming van identiteit en uitslae gevind word. Die hof het beslis dat die gebruik van eksamennommers (in plaas van name) hierdie balans daarstel, maar steeds handhaaf die IR hul standpunt daarteen onwrikbaar, met ’n poging wat baie na ’n magspel tussen instellings begin lyk.
Die IR is ’n onafhanklike liggaam wat ingevolge artikel 39 van die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (wet 4 van 2013), beter bekend as die POPI-wet, gestig is. Dit is onder meer gemagtig om die nakoming van die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (wet 2 van 2000) en die POPI-wet te monitor en af te dwing.
Tans lyk dit nie asof die IR betekenisvol op die beskerming van privaatheid fokus ter wille van misdaadvoorkoming nie. Dit maak ook nie hond haaraf met irritasies soos ongewenste e-posse en bemarkingsoproepe nie. Uiteraard moet dit iewers sigbare optrede onderneem, maar dat dit juis matriekuitslae as teiken moes kies, is jammer, omdat dit onnodige spanning skep vir matrikulante wat graag hulle resultate deur middel van openbare platforms wil kry. Terselfdertyd is dit ’n kwessie wat nie wesentlike veranderinge vir die privaatheid van die betrokkenes kan waarborg nie.
Of die IR dus ’n noodsaaklike diens lewer wat die bedryfskoste daarvan regverdig, sal die tyd nog moet leer. Intussen beskerm die howe en betrokke instellings steeds matrikulante se toegang tot hulle uitslae.



