AfriForum herstel slaggate ná Ekurhuleni-metro hom twee jaar lank doof hou vir klagtes
Twee jaar lank – dít is hoe lank moedelose ondernemings en inwoners in Northernweg in Boksburg moes wag nadat die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit hom doof gehou het vir die talle versoeke om die herstel van slaggate op dié besige roete. AfriForum se Boksburg-tak het egter verlede week ingegryp en ’n kontrakteur, DIY Tar in a Bag, aangestel om dié dringende herstelwerk te doen.
Volgens Nadia Olckers, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand, het die plaaslike onderneming Summit Petroleum na AfriForum uitgereik nadat herhaalde versoeke vir die herstel van die pad deur die metro geïgnoreer is. “Die publiek se versoeke is selfs op die metro se amptelike kaartjiestelsel gelaai, maar is telkens gesluit sonder dat die herstelwerk gedoen is. In die tussentyd het groot vragmotors wat die pad gebruik, die slaggatsituasie vererger. Die omstandighede het veral vir motoriste met kleiner voertuie uiteindelik onhoudbaar geraak en ’n ernstige gevaar vir padgebruikers ingehou,” verduidelik sy.

“Hoewel AfriForum ook na die metro uitgereik het en aangedring het op die herstel van die pad het die metro steeds geweier om die probleem te takel,” verduidelik sy.
Dit het AfriForum se Boksburg-tak genoop om eerder self in te spring en die herstelwerk te laat doen en herstelwerk aan ’n gedeelte van Northernweg en Shortstraat is verlede week afgehandel.
“Dit is skokkend dat die gemeenskap twee jaar moet wag op die metro. Die swak toestand van die roete het nie net ’n invloed op padveiligheid nie, maar benadeel ook ondernemings wat daarlangs geposisioneer is en het derhalwe ’n negatiewe invloed op die gebied se ekonomie. Die herstel van hierdie pad is daarom van kritieke belang vir die gemeenskap as ’n geheel,” gaan Olckers voort.
Sy bestempel hierdie herstelwerk as die eerste fase van ’n reuseprojek aangesien ’n groot deel van die pad nog herstel moet word. Sy hou egter vol dat AfriForum sal voortgaan om voort te bou aan die veiligheid en vooruitgang van dié gemeenskap.

