AfriForum herstel reuseslaggat voor VSA-ambassadeurswoning; doen beroep op SA-regering om ook verhouding met VSA te herstel
AfriForum het gister (29 April) ’n enorme slaggat voor die Amerikaanse ambassadeurswoning in Pretoria – op die hoek van Premier- en Victoriastraat in Waterkloof – herstel. AfriForum beskou hierdie herstelwerk as ’n simboliese daad om uit te beeld hoe die burgerregteorganisasie hom beywer om Suid-Afrika se verweerde verhouding met die Amerikaanse regering te herstel.
Dit is vir AfriForum ironies dat – nes die optrede en nalatigheid van die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit gelei het tot die verval van daardie straat – die optrede en nalatigheid van die Suid-Afrikaanse regering gelei het tot die verval van die verhouding met die VSA.
AfriForum het vroeër vanjaar ’n beroep op die Amerikaanse regering gedoen om nie gewone burgers van die land te straf vir die wandade van die ANC-geleide regering nie en eerder geteikende sanksies teen ANC-leiers in te stel. Gewone Suid-Afrikaners word in der waarheid reeds gestraf deur owerhede wat belastinggeld invorder, maar nie eens sorg vir basiese instandhouding nie.
Volgens Louis Boshoff, veldtogbeampte by AfriForum, verkondig die ANC reeds maande lank valslik dat AfriForum waninligting oor Suid-Afrika aan die Amerikaanse regering verskaf, maar nou is die ware inligting reg onder die neuse van die Amerikaanse diplomate in Waterkloof ten toon gestel. Boshoff verduidelik verder: “Nes AfriForum moet ingryp om paaie in stand te hou waar die regering daarin misluk, moes AfriForum ook intree om gewone burgers se handelsvryheid met die VSA te probeer beredder, nadat die ANC-geleide diplomasie dit byna in die wiele gery het.”
Verskeie AfriForum-takke regoor Suid-Afrika herstel deurlopend slaggate in hul onderskeie areas. Raak betrokke by jou plaaslike AfriForum-tak deur die volgende skakel te volg: www.wordlid.co.za.


