AfriForum help vermeende dwelmhandelaar in Universitas vastrek
AfriForum se veiligheidstrukture in Bloemfontein het opnuut bewys dat gesamentlike optrede tussen gemeenskapslede en veiligheidsrolspelers ’n daadwerklike verskil kan maak in die stryd teen misdaad. Dié tak se AfriForum-buurtwag en die AfriForum911-reaksie-eenheid het verlede week (10 Julie) in samewerking met wetstoepassers van die Parkweg-polisiestasie ’n verdagte vasgetrek vir dwelmhandel.
AfriForum se Gemeenskapsveiligheidsentrum (GVS) het om 11:28 ’n oproep van ’n buurtwaglid ontvang wat op groot hoeveelhede dagga afgekom het. Dié dwelms was in ’n boom naby ’n besigheidsentrum in Universitas versteek. Ná verdere ondersoek het dit aan die lig gekom dat nog pakke dwelms versigtig op die toneel weggesteek is.
AfriForum911 se reaksie-eenheid het dadelik na die toneel gehaas om bystand aan die buurtwaglid te bied. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) is ook ontbied en wetstoepassers verbonde aan die Parkweg-polisiestasie het binne minute op die toneel aangekom.
’n Verdagte is kort daarna in hegtenis geneem. Hy het ’n stalletjie onregmatig langs die pad bedryf, waarvandaan hy verskeie items aan die publiek verkoop het. Die SAPD het boodskappe op sy selfoon gevind wat hom vermoedelik met dwelmhandel verbind en daarop beslag gelê. Die verdagte is in hegtenis geneem vir die besit van en handel in dwelms. Die polisie ondersoek die saak verder.
“Dwelms en dwelmhandelaars is nie welkom in Bloemfonteinse woonbuurte nie. Dwelmhandel skep ’n voedingsbodem vir ander vorme van misdaad en bedreig die veiligheid van ons gemeenskappe en jeug,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein.
AfriForum bedank graag die SAPD, die AfriForum911-reaksie-eenheid, asook ITR Security vir hul spoedige en doeltreffende optrede.


Hou dwelms uit jou buurt deur:
- waaksaam te wees vir ongewone bewegings en aktiwiteite in jou omgewing, veral by openbare plekke of verlate areas;
- onmiddellik enige skynbare gebruik van dwelms of dwelmhandel aan die SAPD of jou plaaslike buurtwag te rapporteer;
- met jou kinders te gesels oor die gevare van dwelmgebruik en hoe om groepsdruk te weerstaan; en
- betrokke te raak by plaaslike gemeenskapsveiligheidsinisiatiewe soos AfriForum911 of ’n AfriForum-buurtwag naby jou.