|

AfriForum gryp in: Moordklag nou oorweeg vir man wat hardloper raakry

’n Senior aanklaer het Dezireè du Plessis se familie meegedeel dat die staat oorweeg om die man wat haar in November verlede jaar, tydens die Soweto-marathon, raakgery het van moord aan te kla. Du Plessis het op 12 Desember 2025 aan haar beserings beswyk. Hoewel haar familie tevrede is dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) die saak behoorlik hanteer, het hulle steeds AfriForum se privaatvervolgingseenheid genader uit kommer dat die huidige klag van strafbare manslag teen Thabang Ndlovu, nie ’n gepaste klag is nie.

In ’n skrywe aan die senior aanklaer by die Orlando-landdroshof, het adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, die saak gestel dat ’n ernstiger klag Ndlovu in die gesig behoort te staar. Luidens mediaberigte het Ndlovu verbale en selfs fisiese waarskuwings van verkeersbeamptes tydens die marathon geïgnoreer toe hulle aangedui het dat hy ’n afgesperde area wil binnegaan, hy het nietemin die area binnegery. Volgens die inligting het verskeie hardlopers padgegee voor die beskuldigde se voertuig voordat hy Du Plessis getref het.

Volgens Nel kan dit argumenteer word dat die beskuldigde die moontlikheid kon sien dat hy ’n hardloper kan tref en homself versoen het met die moontlikheid, voorts is die afleiding dat die beskuldigde dus doelbewus opgetree het, onontkombaar.

Volgens Barry Bateman, woordvoerder vir AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het Du Plessis in ’n polisie-familie grootgeword. “Dezireè se ma en pa was beide lede van die SAPD en het hul lewens daaraan gewy om die samelewing  te dien en toe te sien dat geregtigheid geskied. Dit is nou ons verantwoordelikheid om toe te sien dat dieselfde geregtigheid geskied in hierdie sinnelose dood van ’n ma, suster, en dogter. AfriForum se privaatvervolgingseenheid sal hul volle ondersteuning en samewerking aan die SAPD en die NVG gee in hierdie verband,” sê Bateman.

Die saak is tot 27 Februarie uitgestel vir verdere ondersoek terwyl die beskuldigde, ten spyte daarvan dat borg toegestaan is, in aanhouding bly.

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik