AfriForum gee Kai !Garib drie dae om rioolprobleme in Kakamas, Kenhardt en Keimoes uit te sorteer
AfriForum gee die Kai !Garib Plaaslike Munisipaliteit drie dae om die rioolprobleme in Kakamas, Kenhardt en Keimoes, wat al minstens vyf jaar duur, te takel. Indien dit nie in hierdie tydperk opgelos word nie, sal AfriForum kriminele klagtes teen die munisipaliteit oorweeg.
Luidens ’n brief wat AfriForum op 1 April aan die Kai !Garib-munisipaliteit gestuur het, is die organisasie bekommerd oor die huidige stand van die munisipaliteit se rioolinfrastruktuur en die skadelike uitwerking wat dit op die gemeenskap van Kakamas, Kenhardt en Keimoes se gesondheid en welstand, sowel as op die omgewing om die Oranjerivier, kan hê. Dit wil voorkom asof geen onderhoud aan die infrastruktuur by die rioolaanlegte gedoen word nie en dat rou riool in die nabygeleë oop velde gepomp word. Die mangate in dié drie dorpe loop ook oor.
Die rioolaanlegte in hierdie dorpe is buite werking met geen instandhouding wat al vir ’n paar jaar daar gedoen is nie. Die munisipaliteit pak die skuld op vandalisme en diefstal, maar daar is bewyse dat die munisipaliteit vir die gemeenskap en AfriForum jok. Dit is weens die munisipale bestuur se traak-my-nieagtige houding dat die rioolaanlegte nie werk nie.
Die riool wat by die mangate in Keimoes en Kakamas uitvloei, beland reguit in die Oranjerivier en die kanaal. Die septiese tenks in inwoners se erwe van al drie dorpe te sprake, word ook nie meer uitgesuig nie en veroorsaak dat Keimoes en Kakamas se rioolafval in die Oranjerivier en die kanaal invloei.
In Kenhardt vloei die riool steeds soos ’n rivier reguit in die veld langs die R27-hoofroete in en het al ’n dam van riool gevorm, wat met ’n erge stank gepaardgaan. Die dorp se strate en inwoners se erwe is vol riool as gevolg van die rioolaanlegte wat nie werk nie.
In die brief doen AfriForum ’n beroep op die munisipaliteit om te begin deur die mangate wat oorloop, te herstel en gevolglik ’n aksieplan aan die organisasie te verskaf om hierdie rioolprobleme in die toekoms te voorkom. Die munisipaliteit moet ook die pompe of onderdele, wat by die rioolaanlegte in Kakamas, Kenhardt en Keimoes benodig word, herstel of vervang. AfriForum eis ook ’n vergadering met die munisipaliteit om te bespreek hoe die organisasie die munisipaliteit kan help.
Die munisipaliteit het drie dae om antwoorde te verskaf en die nodige herstelwerk te doen, anders sal AfriForum kriminele klagtes teen die raadslede en amptenare van die Kai !Garib-munisipaliteit oorweeg.