AfriForum gee Bethlehem-munisipaliteit se gemors terug
Die AfriForum-tak in Bethlehem se buurtspan het op 22 Julie die Dihlabeng Plaaslike Munisipaliteit se gemors voor hul eie hek gaan stort, nadat die munisipaliteit nie agter hulself skoongemaak het nie.
Dit volg nadat die munisipaliteit op 18 Julie ’n waterlekkasie op die sypaadjie op die hoek van Impala-singel en Buitestraat herstel het. Ná die herstelwerk is ’n hoop grond en afvalteer voor die oprit van ’n inwoner se woning gestort en daar gelaat. Ondanks talle oproepe en klagtes, het die munisipaliteit geen aksie geneem om die rommel te verwyder nie en dit is toe dat AfriForum ingryp. Die organisasie het dieselfde hoop afval, wat vir dae lank die inwoner se lewe bemoeilik het, opgetel en voor die Dihlabeng-munisipaliteit se hek in die oprit afgelaai.
Hierdie voorval volg kort op ’n soortgelyke insident vroeër vandeesmaand waar die munisipaliteit ’n waterlekkasie in Wesselstraat voor die Laerskool Truida Kestell herstel het. Die gat wat die munisipaliteit vir die herstelwerk gegrawe het, is eers na twee weke slegs gedeeltelik met ongekompakteerde grond toegegooi en met ’n groot drom in die middel van die pad afgesper. Tot op hede is die herstelwerk nie voltooi nie. Dit is ’n gevaar vir kinders en motoriste, en tog word niks daaraan gedoen nie.
“Ons is moeg daarvoor om telkens die munisipaliteit se werk namens hulle te voltooi en boonop uit ons eie sak. Hierdie keer het ons besluit dat hulle self die frustrasie voel wat ons daagliks moet verduur,” sê Christa Ikking, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland.
AfriForum en die gemeenskap maak dit duidelik: Genoeg is genoeg en eis dat die Dihlabeng -munisipaliteit hul verantwoordelikhede behoorlik nakom en dienslewering verbeter om verdere ontevredenheid en protesaksies te vermy.

