AfriForum fokus op vullisverwydering in GOP-insette aan Mangaung-metro
AfriForum het sy voorstelle formeel aan die Mangaung Metropolitaanse Munisipaliteit se Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP) voorgelê, met vullisverwydering as die hooffokus. Die toestand van Bloemfontein se vullisverwyderingsdienste het ’n krisispunt bereik en vereis dringende en daadwerklike ingryping.
Vullis word al vir weke nie op verskeie plekke verwyder nie. Sakke vol rommel en gemors hoop op in strate, op sypaadjies en selfs naby skole. Die ernstige gebrek aan konsekwente vullisverwydering het reeds gesondheidsrisiko’s meegebring en ’n gevaarlike en onhigiëniese omgewing geskep. Hierdie situasie is onaanvaarbaar in enige stad – en nog meer so in ’n metropolitaanse gebied soos Bloemfontein.
AfriForum en sy lede is reeds sedert 2021 gedwing om self te sorg dat vullis verwyder word. In daardie jaar het AfriForum meer as R100 000 spandeer op privaat vullisverwydering. In Februarie vanjaar het die organisasie sy eie vullisverwyderingsvragmotor in Bloemfontein bekendgestel om self die vullis te verwyder. Sedertdien het AfriForum-lede al meer as R960 000 uit hul eie sak betaal sodat AfriForum hul vullis kan verwyder. Dít terwyl inwoners steeds op hul munisipale rekeninge gefaktureer word vir dienste wat eenvoudig nie gelewer word nie. Hierdie praktyk is onregverdig, misleidend en potensieel onwettig. Minstens 230 Bloemfontein-inwoners maak van AfriForum se vullisverwyderingsdiens gebruik.
AfriForum stel die volgende voor ten opsigte van vullisverwydering in Bloemfontein:
- Die onmiddellike herstel en herstrukturering van die vullisverwyderingsdienste.
- Die opgradering en regmatige bestuur van vullisterreine om aan wetlike vereistes te voldoen.
- Die vrystelling van alle inwoners wat formeel aansoek gedoen het om ontheffing van vullisfooie waar geen diens gelewer word nie.
- Die verwydering van vullisfooie van munisipale rekeninge vir gebiede waar dié diens nie gelewer word nie.
- Samewerking met burgerlike strukture soos AfriForum om interim-oplossings te skep terwyl volhoubare langtermyn oplossings geïmplementeer word.
Benewens die probleem met vullisverwyderingsdienste, is slaggate en algemene kwessies rakende dienslewering steeds ’n bron van groot kommer. Slaggate op hoofpaaie en in woonbuurte is ’n ernstige veiligheidsrisiko, terwyl verswakte waterinfrastruktuur, gebrekkige straatligte en onwettige storting die stadsbeeld verder aftakel. Al hierdie kwessies word in AfriForum se GOP-insette uiteengesit
“Die onverskilligheid waarmee Mangaung die vullisverwydering benader, is ’n direkte weerspieëling van die munisipaliteit se versuim om dié diens te lewer. Ons eis onmiddellike optrede en verantwoordbaarheid. Die inwoners van Bloemfontein het genoeg gehad van leë beloftes terwyl hul strate met vullis besaai is,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder in Bloemfontein.
“Kinders moet nie in vuil strate grootword nie. Bejaardes moet nie self hul vullis verbrand of wegry nie. Ons stad se strate stink – letterlik en figuurlik. Hierdie toestand is onmenslik en onaanvaarbaar. Die GOP moet meer as net ’n beleidsdokument wees – dit moet ’n beginpunt wees vir daadwerklike verandering, met vullisverwydering as topprioriteit. Bloemfontein verdien beter.”
AfriForum spreek sy waardering uit teenoor sy getroue lede wat sy vullisverwyderingsdiens finansieel dra, en moedig inwoners aan om aan te sluit en so self by te dra tot ’n skoner Bloemfontein. Belangstellendes kan registreer by www.vullisverwydering.co.za.