AfriForum en kie vul nóg slaggate in Parys ná munisipaliteit nalaat om dit te doen
Die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit se voortgesette versuim om Parys se strate behoorlik te onderhou en selfs ander noodsaaklike dienste te lewer, het die plaaslike AfriForum-tak genoop om weer in te gryp. Die tak het onlangs hande gevat met besorgde inwoners en ander burgerlike organisasies om nóg slaggate op dié dorp te herstel.
Die tak het verlede week daarop gefokus om slaggate voor die ingang van die gholflandgoed in Venusstraat op te vul. Altesaam 70 sakke teer is gebruik om nagenoeg 80 slaggate te herstel. AfriForum se Parys-tak het dié slaggate in samewerking met Braam Cilliers van die organisasie Mooi Parys, asook Brendan Olivier en Koos Botha aangepak.
Daarna is die straat voor die Goue Jare-aftreeoord getakel, waar 50 sakke teer ingewerk is om dit vir die bejaardes veiliger te maak om daar te loop en te ry. Ben du Plessis, ’n inwoner van die gebied, het voortou geneem met hierdie projek.
Die Sally Martin-aftreeoord, onder leiding van Chris Richards, het 80 sakke teer geskenk om die ingang na hierdie oord ook slaggatvry te maak.
Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, sê die verval in Parys het ’n heel nuwe vlak bereik. “Die munisipaliteit lig nie ’n vinger om die dorp te verbeter of minstens te onderhou nie. Gelukkig het gemeenskapslede besluit dat die agteruitgang nou end moet kry en saam met AfriForum hande gevat om die verval te stuit,” sê Pretorius.
Volgens Schalk Burger, AfriForum se voorsitter van die Parys-tak, ontvang die tak al hoe meer versoeke om slaggate te herstel. Hoewel die burgerregteorganisasie alles in die stryd werp om slaggate te herstel, moet dié paaie eintlik heeltemal oorgeteer word.
“Met die beperkte hulpbronne tot die tak se beskikking, word daar veral gefokus op slaggate wat ernstige skade aan motorbande kan veroorsaak,” sê Burger. “Die hande is min en die werk is baie en steeds versuim die munisipaliteit om sy pligte teenoor die gemeenskap na te kom.”
AfriForum is reeds in die proses om die munisipaliteit vas te vat vir sy gebrekkige dienslewering deur middel van ’n hofaansoek. Die burgerregteorganisasie het in Desember verlede jaar ’n dringende aansoek by die Bloemfonteinse Hooggeregshof ingedien waarin intervensie ingevolge artikel 139 van die Grondwet versoek is. Hiervolgens kan ’n provinsiale uitvoerende gesag intree en die munisipaliteit onder administrasie plaas as dit nie sy pligte nakom nie. Die burgerregteorganisasie wag steeds op uitspraak in dié saak.
AfriForum se Parys-tak doen ’n beroep op inwoners, wat nog nie ’n lid is van AfriForum nie, om by die tak aan te sluit om dié dorp weer na sy eertydse glorie te herstel. Kontak Schalk Burger by 082 653 4281 om by die tak aan te sluit.