AfriForum eis optrede ná Tshwane-metro ooreenkoms vir beveiliging van substasies verbreek
AfriForum het vandag ’n formele beroep op die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit gedoen om onmiddellik gehoor te gee aan sy wetlike en morele verpligtinge ná die metro AfriForum onregmatig verhoed het om ’n goedgekeurde gemeenskapsprojek vir die beveiliging van die Garsfontein-substasie in Pretoria uit te voer. Die burgerregteorganisasie eis dat die metro aan AfriForum volle en onmiddellike toegang tot die Garsfontein-substasie gee en dat alle metro-amptenare opdrag gee word om nie AfriForum se werk verder te belemmer nie. Daarbenewens dring die organisasie ook by die metro daarop aan om sy verbintenis tot die bestaande samewerkingsooreenkoms met AfriForum te herbevestiging.
’n Reeks ontploffings en brande by substasies het die metro se energie-infrastruktuur die afgelope paar weke in ’n krisis gedompel. Hierdie gebeure het hele woonbuurte, ondernemings en kritieke dienste, soos skole en klinieke, in duisternis gehul. AfriForum hou vol dat verouderde infrastruktuur, swak bestuur, voortdurende kabeldiefstal en die sabotasie van infrastruktuur as redes vir die ontwrigtende brande en ontploffings by substasies voorgehou kan word en dat AfriForum, veral ten opsigte van die beveiliging van substasies, ’n belangrike rol het om in belang van die metro se inwoners te speel.
AfriForum en die Tshwane-metro het op 1 Maart verlede jaar ’n samewerkingsooreenkoms onderteken waarna die munisipale bestuurder op 3 Oktober ’n formele goedkeuringskrywe vir die beveiligingsprojek van die Garsfontein-substasie aan AfriForum gelewer het.
Ongeag dié goedkeuring en ooreenkoms het munisipale amptenare, glo op instruksie van ’n streekshoof in die metro, AfriForum se operasionele span op die nippertjie toegang tot die Garsfontein-substasie geweier. Volgens AfriForum kom hierdie optrede neer op ’n blatante en eensydige oortreding van die samewerkingsooreenkoms en ’n ondermyning van die metro se grondwetlike plig om samewerking met gemeenskapsorganisasies te bevorder.
“Pretoria se inwoners is keelvol. Elke dag sonder krag is nie net ongerieflik nie – dit beteken verlore inkomste, sekuriteitkwessies en ’n verlies aan vertroue in die bestuur van plaaslikeregeringsake. AfriForum erken die realiteit en daarom het ons, op eie koste en met eie kapasiteit, ingespring om oplossings aan te bied. Die feit dat die metro hierdie hulp doelbewus blokkeer, is onaanvaarbaar,” sê Arno Roodt, AfriForum se distrikskoördineerder vir Pretoria-Suid. “Die weiering van toegang vir dié beveiligingsprojek is nie net toevallige sameloop van omstandighede nie, maar die simptoom van jarelange wanbestuur, kriminaliteit en die metro se vyandige houding teenoor gemeenskapsorganisasies.”
Die beveiligingsprojek vir die beskerming van substasies teen sabotasie en kabeldiefstal sluit onder meer in die gebruik van gevorderde kamerategnologie, kunsmatige intelligensie-analise en ’n gewapende reaksiekomponent. Die beveiliging van die Garsfontein-substasie is as loodsprojek geoormerk, maar die metro se beurokratiese rondslomp bedreig nou die inisiatief in sy geheel.
Benewens die eise wat AfriForum aan die metro gerig het, het die burgerregteorganisasie ook eergister (21 Mei), ’n formele aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) aan die metro gerig om volle toegang tot die metro se substasielys, instandhoudingskedules, kontrakteurslys en instandhoudingsverslae te verkry. Roodt hou vol dat die organisasie dié stap doen om die metro in die belang van die stad se inwoners verantwoordbaar te hou vir die instandhouding van dié kritieke infrastruktuur. Indien die metro sou versuim om die inligting aan AfriForum te voorsien of daarin misluk om aan die organisasie se eise gehoor te gee, is die organisasie gereed om regsaksie teen die metro in te stel.
“Ons staan reg om die energiekrisis die stryd aan te sê. Die vraag is egter of die Tshwane-metro ’n vennoot in vooruitgang of ’n struikelblok in die pad na herstel gaan wees,” sluit Roodt af.
Sluit aan by AfriForum om ons vermoë om infrastruktuur te beskerm te versterk. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.