|

AfriForum eis ondersoek na miljarde rande se onregmatige uitgawes in Noord-Kaapse munisipaliteite

AfriForum doen ’n beroep op die Noord-Kaapse provinsiale wetgewer om – ingevolge die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur – ondersoek in te stel na die swak finansiële posisie waarin die munisipaliteite in die provinsie verkeer. Bevindinge uit die ouditeur-generaal (OG) se 2023/24 verslag dui daarop dat die Noord-Kaap se munisipaliteite R3,6 miljard se onregmatige uitgawes in dié boekjaar aangegaan het. Die organisasie eis ook dissiplinêre optrede teen diegene verantwoordelik vir hierdie reuse-verlies.  In reaksie op die verslag het Bentley Vass, die Noord-Kaapse LUR vir samewerkende regering, menslike nedersettings en tradisionele aangeleenthede, tydens ’n mediakonferensie aangevoer hy is vol vertroue dat die munisipaliteite se finansies sal verbeter.

“AfriForum kan geen rede insien vir Vass se ongegronde optimisme nie, aangesien die munisipaliteite in die voorafgaande boekjaar (2022/23) ’n verlies van R3,4 miljard aan onregmatige uitgawes bestee het, en dat daar tot nog toe geen optrede teen skuldige partye geneem is nie,” sê Thomas van Dalen, AfriForum se Noord-Kaapse streekhoof.

Luidens die verslag is die Sol Plaatje Plaaslike Munisipaliteit (Galeshewe en Kimberley) en die Emthanjeni Plaaslike Munisipaliteit die grootste sondaars. Die verslag verwys na miljoene rande wat verlore gegaan het vanweë swak kontrakbestuur en selfverryking. Volgens die OG het die Emthanjeni-munisipaliteit R1,5 miljoen verloor weens betalings na verkeerde bankrekeninge.

“Die Noord‑Kaapse munisipaliteite is in ’n ernstige finansiële krisis gedompel en op die rand van bankrotskap. Hierdie swak finansiële toestand waarin die munisipaliteite hulself bevind, vereis meer as verskonings en beloftes, maar eerder onmiddellike optrede en resultate. Die provinsiale regering moet nou ophou verskonings maak en verantwoordelikheid neem,” sluit Van Dalen af.

Soortgelyke plasings