AfriForum eis ’n vergadering met Cogta en kie om oplossings vir Gamagara-munisipaliteit se uitstaande Eskom-skuld te vind
AfriForum eis ’n dringende vergadering met die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (Cogta) en die Noord-Kaap Provinsiale Tesourie om kritieke finansiële en operasionele tekortkominge in die Gamagara Plaaslike Munisipaliteit te takel. Dit volg ná die Gamagara-munisipaliteit se voortgesette versuim om sy verpligtinge ingevolge Eskom se skuldverligtingsprogram na te kom.
AfriForum het dié versoek op 17 Maart in ’n brief aan beamptes van Cogta en die Noord-Kaap Provinsiale Tesourie gebring. In ’n ander brief, wat verlede week aan die Gamagara-munisipale bestuurder gestuur is, het AfriForum antwoorde geëis oor die munisipaliteit se uitstaande skuld van R650 miljoen aan Eskom, asook ’n gedetailleerde verduideliking van die munisipaliteit aangevra oor die beplande maatreëls om hierdie skuld te delg. Die munisipaliteit het egter versuim om teen 12 Maart te reageer.
In die jongste brief het AfriForum ook uitgelig dat die Gamagara-munisipaliteit die risiko loop om ’n aansienlike skuldverligtingsvoordeel van Eskom te verbeur. Verder maak die brief ook melding van die vyandige en rassistiese houdings van sekere raadslede wanneer AfriForum die inligting aanvra wat inwoners en belastingbetalers wetlik geregtig is om te ontvang, en sodoende aanspreeklikheid en deursigtigheid ondermyn.
AfriForum stel voor dat ’n vergadering met die belanghebbendes tussen 9 en 11 April plaasvind, waartydens volhoubare oplossings vir die munisipaliteit se finansiële krisis saam ondersoek kan word.
“Die voortdurende gebrek aan reaksie van die Gamagara-munisipaliteit is nie net ’n aanduiding van die mislukking in bestuur nie, maar beïnvloed ook die gemeenskap se regte,” sê Lize-Mari Smit, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo.