AfriForum eis inligting by Thabazimbi-munisipaliteit ná klagtes van korrupsie en wanbestuur
AfriForum het vandag ’n interne appèl aan die Thabazimbi Plaaslike Munisipaliteit gestuur nadat dié munisipaliteit versuim het om te reageer op ’n formele aansoek ingevolge die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) wat die organisasie reeds op 3 Oktober aan hom gestuur het. Dit volg nadat AfriForum al ’n geruime tyd verskeie klagtes ontvang het oor die goedkeuringsproses van bouplanne én die aanmoediging om sogenaamde spoedfooie te betaal.
AfriForum se PAIA-aansoek was spesifiek daarop gemik om inligting oor die kriteria, proseslyne en beskuldigings van korrupsie in die goedkeuringsproses van bouplanne te bekom. AfriForum het vele klagtes oor die vertraging in die verkryging van boupermitte ontvang. Die vertragings is dikwels gekoppel aan individue wat nie ’n nie-amptelike “spoedfooi” – ’n praktyk wat blykbaar verband hou met beweerde korrupsie by die munisipaliteit – betaal nie. Wanneer ’n aansoeker dié skelm fooi betaal, word sy boupermit onmiddellik goedgekeur.
Hierdie uitdaging word verder vererger deur die aankondiging dat die tesourie beoog om finansiering aan die Thabazimbi-munisipaliteit en vier ander munisipaliteite op te skort met ’n gesamentlike waarde van bykans R500 miljoen. Hierdie stap is daarop gemik om munisipaliteite te dwing om hul skuld aan waterrade te begin betaal. Die Thabazimbi Plaaslike Munisipaliteit skuld Magalies Water meer as R216 miljoen – dit is ’n duidelike aanduiding van finansiële wanbestuur.
Volgens Charné Mostert, veldtogbeampte oor korrupsie by AfriForum, toon die gebrek aan reaksie en die eskalasie van finansiële skuld die ernstige afwesigheid van deursigtigheid en aanspreeklikheid. “Die kombinasie van beweerde korrupsie en finansiële wanbestuur maak dit amper onmoontlik om enige vlak van dienslewering aan die gemeenskap te verseker,” sê Mostert. AfriForum doen ’n beroep op die publiek om voort te gaan om korrupsie en wanbestuur in hul gemeenskappe aan te meld. “Deursigtigheid is die hoeksteen van goeie bestuur, en daarom sal AfriForum nie toelaat dat hierdie interne appèl in die niet verdwyn nie,” sluit Mostert af.
Tussenverkiesings sal na verwagting op 4 Desember 2024 gehou word, wat deurslaggewend sal wees vir die toekomstige bestuurstruktuur van die Thabazimbi Plaaslike Munisipaliteit.