AfriForum eis inligting by Mpumalanga Onderwysdepartement oor aankoop van skootrekenaars

AfriForum het pas ’n formele versoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (ook bekend as PAIA) aan die Onderwysdepartement van Mpumalanga gerig om meer inligting oor die aankoop van 22 skootrekenaars in Desember 2024 te bekom.

Dit volg nadat ’n anonieme bron inligting aan AfriForum voorsien het wat aandui dat dié skootrekenaars skynbaar teen ’n koste ver bo die algemene markprys van soortgelyke rekenaars aangekoop is.

In die versoek vra AfriForum onder meer hoe daar op die spesifikasies vir die modelle en programmatuur waarop besluit is, ooreengekom is; besonderhede van die tenderproses wat gevolg is; die name van verskaffers wat tenders vir die aankope ingedien het; die finale bedrag waarteen die skootrekenaars aangekoop is; enige dokumente wat die prysstruktuur uiteensit; met watter doel dit deur die departement aangewend sal word; asook ’n uiteensetting van die begrotingstoewysing vir die aankoop daarvan.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, is dit noodsaaklik dat burgerregte-waghonde soos AfriForum hulle ore op die grond moet hou om wanspandering te probeer voorkom. Bailey beklemtoon dat enige moontlike wanaanwending van fondse deur onderwysowerhede op provinsiale of nasionale vlak nie alleen onaanvaarbaar is en vasgevat moet word nie, maar ’n wrang smaak in die mond laat as ’n mens in ag neem met hoeveel uitdagings skole en leerders as gevolg van begrotingstekorte te kampe het.

“Met dit in gedagte, volg AfriForum die bewerings oor hierdie transaksie op om seker te maak of die spandering geregverdig is. Die Onderwysdepartement se reaksie op die PAIA-aansoek sal wel aandui of die inligting waaroor AfriForum  beskik, korrek is, al dan nie, en indien nodig kan daar aan die hand daarvan oor verdere stappe besluit word,” sluit Bailey af.

Soortgelyke plasings