|

AfriForum eis duidelikheid oor Ekurhuleni wat steeds tarief vir gesteelde kragkabels hef

AfriForum het in ’n skrywe aan die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit antwoorde geëis oor die wettigheid van die tarief wat van inwoners van Kempton Park en omliggende gebiede ingevorder word om gesteelde kragkabels te herstel. Luidens ’n memorandum wat op 1 Julie 2023 deur die metro uitgereik is, word inwoners verplig om R1 500 plus BTW te betaal voordat kragverbindings herstel word ná kabeldiefstal. Volgens AfriForum is hierdie praktyk ongrondwetlik, irrasioneel en strydig met die metro se eie verordeninge.

“Inwoners word gepenaliseer vir kabeldiefstal wat op munisipale infrastruktuur plaasvind – iets wat nie binne hulle beheer of vermoë is om te beveilig nie. Hierdie optrede plaas die metro se konstitusionele plig om dienste te lewer op die skouers van die einste gemeenskappe wat dit veronderstel is om te dien,” sê Nadia Olckers, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.

AfriForum het die Ekurhuleni-metro se verordening oor dié tarief nagegaan en bevind dat daar geen bepalings bestaan wat die metro outomaties die reg gee om sodanige heffings op bona fide verbruikers af te dwing nie. Inteendeel, dit bepaal dat die metro eers ’n hofbevel moet bekom voordat herstelkoste – in gevalle waar daar oortredings was – van inwoners ingevorder mag word. Kabeldiefstal deur derde partye op openbare grond val nie onder sodanige oortredings nie.

AfriForum het in sy skrywe aan die metro ook verwys na die uitvoerende burgemeester se onlangse aangekondig dat die R1 500-heffing geskrap gaan word. Skaars twee maande ná hierdie aankondiging is AfriForum in kennis gestel dat sommige van sy lede steeds verplig word om dié tarief te betaal voordat gesteelde kabels vervang word. Dit is aanduidend van ’n gebrek aan implementering of moontlike misleiding van die publiek.

AfriForum het die munisipaliteit versoek om teen volgende week (12 Junie) die volgende dokumentasie te voorsien:

  • ’n Hofbevel wat die heffing regverdig.
  • Die raadsbesluit wat die memorandum van 1 Julie 2023 goedgekeur het.

Indien die metro versuim om die nodige terugvoer te gee en te onderneem om die tarief te skrap, sal AfriForum regstappeteen hierdie wanpraktyk doen.

“Die burgerregteorganisasie sal nie toelaat dat ’n metro wat versuim om sy pligte na te kom die finansiële druk op gemeenskappe afdwing nie. AfriForum sal hierdie stryd tot die einde voer,” sê Olckers.

Besoek www.wordlid.co.za om by die beweging vir selfstandige gemeenskappe aan te sluit.

Soortgelyke plasings