AfriForum eis antwoorde oor jarelange geslote lisensiekantoor in Heilbron
AfriForum se Heilbron-tak doen ’n dringende beroep op die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit om duidelikheid te verskaf oor die voortslepende sluiting van die lisensiekantoor in Heilbron. Die kantoor is reeds sowat vyf jaar buite werking nadat rekenaartoerusting na bewering gesteel is.
Luidens ’n brief wat AfriForum vandag aan die munisipaliteit gerig het, kan inwoners sedertdien geen bestuurs-, leerling- of voertuiglisensies in Heilbron uitneem nie en word hulle gedwing om na ander dorpe te reis vir hierdie dienste. Volgens AfriForum het dit groot koste-implikasies vir die gemeenskap. Ondernemings met ’n vloot voertuie moet byvoorbeeld met al die voertuie na ander dorpe reis om die voertuie deur die toets te kry, wat nie net tydrowend is nie maar ook finansieel onhoudbaar is.
AfriForum sê voorts dat hierdie situasie nie net ’n negatiewe uitwerking op inwoners nie, maar ook lei tot ’n aansienlike verlies aan inkomste vir die Ngwathe-munisipaliteit self, aangesien lisensiefooie elders betaal word.
AfriForum het ook kennis geneem van gerugte dat die gesteelde rekenaars reeds lankal vervang is. Die vraag bly dus waarom die kantoor steeds nie funksioneer nie en of die personeel wat vir dié werk aangestel is, steeds op die betaalstaat verskyn sonder om hul pligte na te kom.
AfriForum verwag ’n vinnige en deursigtige antwoord van die munisipaliteit oor die redes vir die vertraging, sowel as ’n tydraamwerk vir wanneer die lisensiekantoor weer volledig operasioneel sal wees.
Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, is dit net nog ’n voorbeeld van die swak diens wat die Ngwathe-munisipaliteit lewer. Wat die saak vererger, is dat dit duidelik nie hul doel is om die gemeenskap te dien nie maar ook dat ’n geleentheid om ’n inkomste te verdien, bloot nie aangegryp word nie.
Om by die AfriForum-tak in Heilbron aan te sluit, kontak Paul Bergh by 081 354 3073.