AfriForum eis antwoorde oor ‘dubbele belasting’ rakende vullisverwydering in Tshwane
AfriForum het op 27 Mei ’n formele aansoek in terme van die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) aan die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit gerig om volledige inligting oor die metro se vullisverwyderingspraktyke, kontrakte en begrotings aan die lig te bring. Dit volg ná onthullings oor ‘dubbele belasting’ in verskeie Gauteng-munisipaliteite, waar privaat kontrakteurs vir vullisverwydering gehuur word ten spyte van reeds befondsde munisipale infrastruktuur en personeel.
Luidens mediaberigte maak die Tshwane-metro gebruik van privaat diensverskaffers vir huishoudelike vullisverwydering. Dít, terwyl die metro se afvalbestuursafdeling steeds die staatskas belas met hul talle werknemers en miljoene rande se vragmotors – insluitend die 15 vullisverwyderingsvoertuie wat die metro in 2020 aangekoop het.
“Hierdie onthulling dui op ’n skokkende vlak van ondoeltreffendheid in die Tshwane-metro. Belastingbetalers moet hul hardverdiende geld vir munisipale vullisverwyderingsvoertuie en werknemers opdok, terwyl dit staan en stof opgaar. Die metro verskuif dan hul verantwoordelikhede na privaat diensverskaffers – weereens ten koste van die belastingbetaler,” sê Arno Roodt, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Suid.
AfriForum onderneem om die metro aanspreeklik te hou en in belang van belastingbetalers op te tree. Ten einde dit te behaal eis AfriForum se PAIA-aansoek onder meer ’n volledige lys van bates waarop alle munisipale en gehuurde vullisverwyderingsvoertuie uiteengesit word, sowel as die toestand en diensgeskiedenis daarvan; afskrifte van alle kontrakte met privaat diensverskaffers; inligting oor werknemers in diens van die Tshwane-metro met betrekking tot vullisverwydering; begrotingsinligting oor salarisse, herstelwerk en huuruitgawes; en inligting oor die aantal huishoudings wat deur die metro en kontrakteurs bedien word.
Volgens AfriForum is die Tshwane-metro egter nie die enigste sondaar nie. Munisipaliteite soos Emfuleni, Johannesburg, Merafong en die Wes-Rand versuim op soortgelyke wyse om aan basiese dienslewering te voldoen, maar spandeer terselfdertyd miljoene rande aan eksterne kontrakteurs.
“Tshwane se inwoners is reeds oorbelas, maar die metro strooi belastingbetalers se geld rond asof dit konfetti is. Daar is eenvoudig geen strewe na doeltreffendheid nie. AfriForum sal dus voortgaan om die metro tot verantwoording te roep, terwyl ons aan werkbare alternatiewe tot die mislukte staatsdiens bou,” voer Roodt aan.
Hy sê verder dat AfriForum volstoom bou aan ’n privaat vullisverwydering- en herwinningsdiens, wat reeds groot sukses in Bloemfontein, Groenkloof en Centurion behaal. Die organisasie beoog ook om verdere veldtogte voort te sit vir die vryskelding van vullisverwyderingstariewe vir diegene wat van privaat dienste gebruikmaak.
AfriForum stel dit duidelik dat, indien die Tshwane-metro nie binne die voorgeskrewe tydperk van 30 dae op die aansoek reageer nie, moontlike regsaksie sal volg. Die publiek ’n grondwetlike reg tot toegang tot inligting het en AfriForum is bereid om hierdie reg af te dwing.
AfriForum doen ’n beroep op inwoners van Pretoria om hul hande sterk te maak deur by die organisasie aan te sluit. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.