AfriForum eis afkeuring van nóg ’n taverne-aansoek in Hartswater
AfriForum het op 28 Augustus ’n formele beswaar by onderskeidelik die drank- en die dobbelraad in die Noord-Kaap ingedien teen ’n aansoek vir ’n taverne-dranklisensie en die oordrag van ’n dobbelarylisensie by Erf 998, Gert Lubbestraat 2, Hartswater. Die organisasie eis dat hierdie aansoek afgekeur word, onder meer omdat dié ligging nie ideaal is vir ’n taverne nie.
Volgens Lize-Mari Smit, distrikskoördineerder van AfriForum in die Karoo, sal die goedkeuring van hierdie lisensies ernstige negatiewe gevolge vir die gemeenskap inhou. Die betrokke perseel is naby ’n hoofpad, ’n hospitaal, ’n aftreeoord en die plaaslike taxistaanplek geleë – almal sensitiewe gebiede waar ’n taverne of dobbelplek die risiko van misdaad, verkeersgevare en geraas aansienlik sal verhoog.
“AfriForum ondersteun die Hartswater-gemeenskap al die afgelope 12 jaar. Ons kan eenvoudig nie toelaat dat nóg ’n taverne en ’n dobbelplek gevestig word, wat bydra tot sosiale verval, misdaad en armoede nie,” sê Smit.
Verder beklemtoon AfriForum in sy beswaar dat Hartswater reeds met ernstige probleme soos misdaad, dwelmmisbruik en geweld worstel; dat die nabyheid aan skole, kerke en woongebiede kinders en jongmense aan riskante gedrag blootstel; dat dobbelary dikwels lei tot finansiële verwoesting en uitbuiting van kwesbare inwoners; en dat daar reeds ’n oorversadiging van drankwinkels in die dorp bestaan.
“Die belange van Hartswater se mense – veral gesinne, bejaardes en die jeug – moet eerste kom. Ons doen daarom ’n dringende beroep dat hierdie lisensie-aansoeke afgekeur word,” sluit Smit af.