AfriForum dring by KZN-premier aan op ondersoek na departement se onregmatige verwydering van tradisionele leiers
AfriForum het vandag in ’n brief aan die premier van KwaZulu-Natal, Thami Ntuli, daarop aangedring dat hy dringend stappe doen om om verdere onwettige, onregmatige en onbillike optrede teen izinduna (hoofmanne) te stuit en om dringend ondersoek in te stel na die onregmatige optrede teen tradisionele leiers in dié provinsie. Dit volg in reaksie op versoeke om bystand wat AfriForum van tradisionele leiers en gemeenskapslede ontvang het rakende die beweerde optrede wat die provinsiale Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (KZN-DSRTS) teen plaaslike tradisionele leiers ingestel het met die oog op ontslag van dié leiers.
“AfriForum is baie besorg oor die negatiewe impak wat hierdie optrede kan hê op die stabiliteit en ontwikkeling van voetsoolvlak-gemeenskappe en die verreikende gevolge wat moontlik hieruit kan voortvloei. Ons almal is terdeë bewus van die vlaag moorde waarmee tradisionele leiers in die provinsie gekonfronteer word – onder sulke omstandighede is dit van kritieke belang dat daar deursigtige, billike, wettige en wyse optrede van alle rolspelers moet wees, insluitende regeringsamptenare,” sê Barend Uys, hoof van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum.
KZN-DSRTS het sedert middel April aan minstens agt tradisionele leiers briewe gestuur waarin hulle van onder meer wangedrag aangekla word en waarin hulle 21 dae gegee word om te reageer of ontslag in die gesig te staar.
Die inhoud van dié briewe sowel as die antwoorde daarop, wek ernstige twyfel oor die billikheid, regmatigheid en wettigheid van die stappe wat teen die leiers ingestel is. Die briewe lê die volgende bloot:
- Die proses word nie volgens die voorgeskrewe regsvoorskrifte aangepak nie.
- Aantygings word teen leiers gemaak sonder dat die stawende dokumente aan hulle verskaf word.
- Ongegronde, vae aantygings – soos “onvanpaste optrede” en “onbetroubare en oneerbare optrede” – word teen die leiers gemaak.
- Verskeie KZN-DSRTS-briewe is nie gedateer of onderteken nie.
- Presies dieselfde aantygings word teen verskeie leiers gemaak.
- Baie van die briewe is op presies dieselfde datum deur leiers ontvang.
“Die instelling van tradisionele leierskap speel ’n baie belangrike rol in Suid-Afrika se kultuurgemeenskappe en moet gerespekteer, beskerm en ontwikkel word. AfriForum werk aan die vestiging van goeie verhoudinge en samewerking, gebaseer op wedersydse erkenning en respek, tussen Afrikaners en ander kultuurgemeenskappe in die land. Die unieke kulturele identiteit en instellings van alle kultuurgemeenskappe, insluitende tradisionele leierskap, is deel van die wese van ons samelewing en het ’n belangrike rol om in die hede en toekoms te vervul. Dit is waarom AfriForum bevoorreg is om, wanneer daar versoek word, ook bystand te verleen aan die instelling van tradisionele leierskap,” sluit Uys af.