AfriForum dring aan op onmiddellike oplossing vir voortslepende waterkrisis in Delportshoop
AfriForum doen ’n beroep op die Dikgatlong Plaaslike Munisipaliteit om die ernstige waterprobleme in Delportshoop te prioritiseer. Inwoners van hierdie myndorpie ervaar sedert Desember 2024 probleme met watervoorsiening weens die verouderde waternetwerk. Plantegroei se wortels het al deur die ou waterpype gedring wat lae waterdruk tot gevolg het en in sommige gevalle is daar ook geen water in die krane nie. Die organisasie eis dat die munisipaliteit onmiddellike verligtingsmaatreëls vir die gemeenskap instel, terwyl ’n volhoubare oplossing vir die waterkrisis beraam word.
Ten spyte van herhaalde pogings om met die munisipaliteit in gesprek te tree – insluitend gereelde telefoniese gesprekke en e-pos-kommunikasie sedert vroeg 2025 – is hierdie pogings telkens geïgnoreer. AfriForum het op 28 Januarie en weer op 5 Februarie formele skrywes aan die munisipaliteit gerig om dringend by die waterkrisis in te gryp en verligting te bring. Tot op hede is geen reaksie ontvang nie.
“In die lig van hierdie aanhoudende gebrek aan optrede en kommunikasie, het AfriForum die saak op 13 Februarie geëskaleer deur skriftelik ’n beroep te doen op die Vrystaatse premier en die Departement van Samewerkende Regering, Menslike Nedersettings en Tradisionele Sake (Cogta). Ons versoek het dit duidelik gemaak dat dringende ingryping nou onontbeerlik is,” sê Lize-Mari Smit, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo.
AfriForum het op 17 Maart verdere korrespondensie aan Cogta gerig om spesifiek die toestand in Kruger-, Fourie-, Selzer- en Pretoriusstraat in Delportshoop onder sy aandag te bring. Die watertoevoer in hierdie strate was aanvanklik af gewees nadat die munisipaliteit verlede jaar herstelwerk aan die hoofpypleiding gedoen het. In reaksie hierop het Cogta op 20 Maart bevestig dat die saak onmiddellik en met erns hanteer sal word en dat een van sy spanne direk met die Dikgatlong-munisipaliteit sal skakel om te verseker dat dringende verligtingsmaatreëls sonder versuim geïmplementeer word. Later sou daar na verdere ondersoek egter vasgestel word dat die hoofoorsaak vir die waterkrisis – in veral Kruger- en Pretoriusstraat – boomwortels is wat die waterpype deurdring het.
Die premier se kantoor het ook op 17 Maart die munisipaliteit besoek om ondersoek in te stel na enige vorderinge rakende ’n oplossing vir die waterkrisis.
Verder het Cogta op 20 Maart ’n formele geskrewe reaksie aan AfriForum gestuur, waarin hy weereens sy verbintenis bevestig tot die beskerming van inwoners se reg op skoon water. In hierdie skrywe word bevestig dat die aangeleentheid verder verwys is vir dringende aandag en dat Cogta saam met die Dikgatlong-munisipaliteit aan ’n volhoubare oplossing werk. Hierdie formele reaksie dien as ’n amptelike bevestiging van die proses wat tans volg om Delportshoop eindelik weer van water te voorsien.
AfriForum verwelkom hierdie reaksies en sal die vordering van die ondersoek oor die waterkrisis en implementering van verligtingsmaatreëls fyn dophou om te verseker dat dit werklik tot voordeel van die gemeenskap strek.
Ten einde groter deursigtigheid en gemeenskapsbetrokkenheid te bevorder, het AfriForum ook ’n aanlyn platform geskep waar inwoners wateronderbrekings, lae waterdruk en lekkasies kan aanmeld.
AfriForum bly onwrikbaar in sy verbintenis tot die beskerming van burgerlike regte en die bevordering van aanspreeklikheid in plaaslike dienslewering. Ons dring daarop aan dat alle relevante rolspelers hierdie saak hanteer met die dringendheid en erns wat dit vereis.