AfriForum doen beroep op die parlement om nie die Konstitusionele Hof te minag nie
AfriForum doen ’n beroep op die parlement om te hou by die Konstitusionele Hof se tydlyne vir die verandering van wetgewing en die regstel van wetgewende prosesse wat ongrondwetlik of ongeldig verklaar word. Dit volg ná die hof gister (29 Mei) ter elfder ure beveel het dat die tydperk vir die grondwetlike aanvaarding van óf die Wet op Tradisionele en Khoi-San-leierskap 3 van 2019 óf ’n nuwe wet in die plek daarvan met twee jaar, na 29 Mei 2027, uitgestel is. Gister was die vasgestelde datum wat die Konstitusionele Hof vir die aanvaarding van die wet beveel het.
Die bevel kom ná Velenkosini Hlabisa, die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, op 16 April ’n aansoek op ’n nie-dringende grondslag vir die verlenging van die tydperk by die hof uitgereik het.
“Die feit dat hierdie kernbelangrike wetgewing nie binne die gestelde tydperk in ooreenstemming met die Grondwet gefinaliseer is nie, dompel verskeie van die land se kultuurgemeenskappe vir ’n verdere twee jaar in onsekerheid. Dit stuur ’n boodskap aan gemeenskappe dat die instellings en strukture van kultuurgemeenskappe, sowel as kulturele en groepsregte oor die algemeen, nie vir die regering ’n prioriteit is nie,” sê Barend Uys, hoof van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum.
Gister se Konstitusionele Hof-uitspraak is die soveelste voorbeeld van uitstel wat deur die hof gegee moes omdat die nodige werk nie binne die vasgestelde tyd gedoen is nie. Voorbeelde hiervan sluit onder meer in:
- Op 25 Augustus 2016 het die hof vir die derde keer uitstel toegestaan vir die regstel van artikels 2 en 3 van die Beskerming van Gedresseerde Diere Wet.
- Op 23 Maart 2018 het die hof die CPS-kontrak, wat voorheen ongeldig verklaar is, vir die uitbetaling van kontanttoelae van die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekuriteit (Sassa) vir ses maande verleng.
- Op 9 Desember 2022 het die hof vir ’n tweede keer uitstel gegee (van 10 Desember 2022 tot 28 Februarie 2023) vir die finalisering van die Kieswysigingswet.
- Op 26 Junie 2024 het die hof ’n verdere twee jaar gegee vir die regstel van die Wet op Egskeiding en die Huwelikswet.
“Die ANC-geleide regering en parlementariërs maak gereeld daarop aanspraak dat Suid-Afrika ’n funksionerende konstitusionele demokrasie is. Dit is veral die afgelope tyd gedoen in reaksie op die stappe en uitsprake van die Trump-administrasie in die VSA. Die feit dat Suid-Afrika se hoogste hof egter herhaaldelik vasgestelde spertye moet verleng om te verhoed dat die parlement en regeringslui skuldig staan aan minagting van die hof, is aanduidend van ’n gebrek aan toewyding aan en ’n verbintenis tot ’n konstitusionele orde,” sluit Uys af.
AfriForum het reeds in Maart vanjaar ’n beroep op Hlabisa gedoen om in belang van kultuurgemeenskappe op te tree en noodsaaklike wysigings aan die Wetsontwerp op Tradisionele en Khoi-San-leierskap, 2024 aan te bring, aangesien die wet in sy huidige vorm volgens AfriForum in stryd is met die Verenigde Nasies se Deklarasie vir die Regte van Inheemse Volke (UNDRIP).