AfriForum daag rasgebaseerde vereistes vir “diskriminasiefonds” uit in parlementêre voorlegging

Klankgreep: Ernst van Zyl (Afrikaans)

Klankgreep: Ernst van Zyl (Engels)

AfriForum het vandag ’n geskrewe voorlegging by die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging (DHNM) ingedien waarin die rasgebaseerde vereistes van die voorgestelde “diskriminasiefonds” ter waarde van R100 miljard wat tans deur die departement oorweeg word, uitgedaag word. In die voorlegging maak AfriForum dit duidelik dat dié sogenaamde transformasiefonds se streng rasgebaseerde vereistes vir die toegang tot regeringsfondse geskrap moet word en vervang moet word met nierassige kriteria gebaseer op ekonomiese middele.

Die burgerregteorganisasie voer voorts ook aan dat regeringsfondse van nature ten prooi val van korrupsie, plundering en uitbuiting deur polities verbonde individue. Laastens verwerp AfriForum die minister van DHNM se voorgestelde finansieringsmodel wat die onteiening van 3% van privaat ondernemings se jaarlikse netto wins ná belasting in die vooruitsig stel.

AfriForum hou vol dat werklike bemagtiging slegs kan plaasvind deur middel van volgehoue ekonomiese groei. Dit kan behaal word deur die instelling van beleide wat groei aanmoedig en die regulatoriese las en rasbevooroordeelde vereistes op groot maatskappye sowel as familie-ondernemings verlig.

Volgens Ernst van Zyl, hoof van Openbare Betrekkinge by AfriForum, moet ’n beleid beoordeel word aan die hand van die uitkomste, nie die bedoelings nie. “AfriForum is nie gekant teen die bemagtiging van behoeftige swart mense nie. Ons is wel gekant teen raseksklusiewe beleide wat in beginsel verkeerd is én ekonomiese groei skaad. Oordeel die boom aan sy vrugte. Die wrang vrugte van diskriminerende rasbeleide en -fondse het help toesien dat korrupsie en baantjies vir boeties floreer, die Suid-Afrikaanse ekonomie in ’n wurggreep van rasgebaseerde regulasies geplaas, buitelandse investering verdryf en ontmoedig, en rasseverhoudinge laat verswak,” verduidelik Van Zyl.

“Die laaste ding wat die sukkelende Suid-Afrikaanse ekonomie nou nodig het is nóg belasting en meer rassediskriminasie om die reeds vyandige en oorbelaste sakeomgewing te vererger. Die Suid-Afrikaanse regering se rasbenadering tot probleemoplossing is nou reeds vir te lank voortgesit en het al genoegsame negatiewe uitkomste tot gevolg gehad om ’n rigtingsverandering te regverdig. Dit is tyd om meritokrasie, kriteria gebaseer op ekonomiese middele en ’n sakevriendelike benadering ’n kans te gee,” sluit Van Zyl af.  

AfriForum het ’n petisie van stapel gestuur waardeur die publiek kan eis vir die beëindiging van die regering se rasgebaseerde wette. Besoek www.stopraswette.co.za of klik hier om die petisie te ondersteun.

Soortgelyke plasings