|

AfriForum-buurtwagte speel groot rol in beveiliging op grens tussen SA en Zim

Grensbeheer tussen Suid-Afrika en Zimbabwe het totaal verval met honderde onwettige smokkelaars wat daagliks met goedere ter waarde van miljoene rande weerskante oor die grens heen stroom.

AfriForum het ’n nuwe dokumentêr, Open Borders, vrygestel wat wys in watter haglike toestande die grensdrade is en hoe dit geen krimineel meer buite hou nie. Die dokumentêr fokus egter ook op die enorme werk wat die organisasie se buurt- en plaaswagte doen om te help om wet en orde langs die grense te bevorder. Hulle werk nou saam met ander rolspelers soos boere en verskeie suksesse is al behaal waar smokkelaars afgeskrik of aangekeer is.

’n Hoëvlakafvaardiging van die parlement het die gebied verlede jaar besoek om te kyk na die “nuwe” heining ter waarde van R40 miljoen waarvoor Patricia de Lille, Minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, opdrag gegee het. Dié afvaardiging het tot die slotsom gekom dat die nuwe heining ’n “verspilde uitgawe” is en dat die 37 jaar oue draadgrensheining tussen Suid-Afrika en Zimbabwe in ’n beter toestand as die omstrede een is. Volgens hulle sou dit self meer prakties en kostedoeltreffend gewees het om die ou heining, wat in 1994 opgerig is, eerder op te knap.

De Lille was egter haar hande in onskuld en sê geen ongerymdhede of korrupsie het met die nuwe heining plaasgevind nie, hoewel die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) vroeër bevind het dat 14 amptenare glo onregmatig opgetree het in die projek.

De Lille het ook probleme met die oponthoud voor die deur van die Departement van Verdediging gelê.

Met hierdie film neem ons die kyker saam met ons na hierdie areas om die chaos te beleef.

Open Borders ontbloot die absolute gebrek aan grensbeheer op die grens tussen die twee lande asook die misdaad wat dit tot gevolg het. Kykers kan sien hoe gehawend die heining is waardeur smokkelaars met gemak met groot houers en selfs matrasse op die kop kan deurloop.

Dit wys egter ook op die baanbrekerswerk wat AfriForum se buurt- en plaaswag-vrywilligers doen in die stryd om die plaaslike inwoners en hul eiendom te beskerm teen die aanhoudende infiltrasie van smokkelaars en stropers in die gebied. Feitlik enigiets soos sigarette, dwelms, voedsel en huishoudelike toerusting word heen en weer oor die grens gesmokkel. Misdadigers aan Suid-Afrika se kant gebruik ook hierdie oop grense om gesteelde voertuie na Zimbabwe te smokkel.

 “’n Mens verstaan regtig nie hoe ernstig die situasie is totdat jy dit self gesien het nie en dit is presies wat hierdie dokumentêr poog om te doen. Met hierdie film neem ons die kyker saam met ons na hierdie areas om die chaos te beleef. Ons grensgebiede het in die wilde weste verander waar dit elke man vir homself is. Gemeenskappe het nie ’n ander keuse as om verantwoordelikheid vir hul eie veiligheid te neem nie veral aangesien die regering glad nie daarin belangstel om hierdie areas suksesvol te patrolleer nie. In dié opsig doen die buurtwagte en vrywilligers uitstekende werk.

Jacques Broodryk, regisseur van die dokumentêr en veldtogbestuurder by AfriForum

“Vrywilligers wat deel is van AfriForum se gemeenskapsveiligheidstrukture waag elke dag, sonder enige vergoeding, hul lewe om oorgrensmisdaad te bekamp aangesien die owerhede klaarblyklik nie daarin belangstel nie,” sê Jacques Broodryk, regisseur van die dokumentêr en veldtogbestuurder by AfriForum.

Raymond Hohls, AfriForum se operasionele bestuurder vir Gemeenskapsveiligheid, sê die vrywilligers by AfriForum se buurt- en plaaswagte doen ekstra moeite om hul gemeenskappe te beskerm en te ondersteun. Ons wil graag meer mense aanmoedig om betrokke te raak en hiermee te help.”

Die volgende aflewering van Open Borders sal op die Suid-Afrikaanse grens met Mosambiek fokus. Open Borders kan hier gekyk word: https://www.youtube.com/watch?v=bAC15FoZmO0

Soortgelyke plasings