|

AfriForum-buurtwag staan SAPD by, keer verdagtes aan ná Krokodildrift-Wes-roof

Twee verdagtes is op 3 April aangekeer en ’n derde noodlottig gewond in ’n veiligheidsoperasie in Bokfontein, buite Brits, waarin AfriForum se Brits-buurtwag bystand verleen het aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD). Dié operasie het gevolg op ’n gewapende roof wat twee dae vroeër, op 1 April, in Krokodildrif-Wes plaasgevind het.

Twee bejaarde inwoners is tydens dié rooftog in hul huis oorval en vasgebind. Hul voertuig en ander waardevolle besittings is beroof. Die polisie het in hul ondersoek na afloop van die aanval inligting ingewin wat gelei het tot die identifikasie en opsporing van ’n aantal verdagtes in Bokfontein.

’n Skietery het tydens die polisie se operasie in Bokfontein uitgebreek en ’n dringende oproep om bystand is aan veiligheidsrolspelers in die omgewing gestuur. Verskeie SAPD-lede, AfriForum-buurtwaglede, sekuriteitsmaatskappye, lede van die plaaslike Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) en ander instansies was binne minute op die toneel.

Benewens die arrestasie van twee en die dood van een verdagte, het die polisie ook beslag gelê op wapens en goedere wat moontlik in die Krokodildrif-Wes-aanval gesteel is.

“Dit was ’n intense, gevaarlike situasie, en ek is trots op die wyse waarop almal saamgestaan het. AfriForum se buurtwaglede het met groot professionaliteit opgetree en dit is ’n voorreg om saam met die SAPD en ander rolspelers misdaad op so ’n doeltreffende manier te beveg,” sê Stephan Roos, voorsitter van AfriForum se Brits-buurtwag.

“Ons is baie dankbaar dat ons lede ná die operasie ongedeerd kon terugkeer huis toe. Dit wys watter impak samewerking tussen gemeenskapsveiligheidsrolspelers en die polisie kan hê,” sluit Roos af.

AfriForum sal voortgaan om proaktief teen misdaad op te tree en om te help om gemeenskappe beskerm.

Soortgelyke plasings