| |

AfriForum-buurtwag ruk op teen misdaad in Bellville

AfriForum se Bellville-buurtwag het die afgelope naweek kwaaddoeners se onwettige bedrywighede ’n harde hou toegedien toe dié lede saam met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en ander veiligheidsrolspelers op wapens én dwelms beslag gelê het.

Die buurtwag het Saterdag (8 Februarie) in die vroeë oggendure patrollies deur misdaadbrandpunte gery. Sowat vyf uur later en 300 km verder, het die buurtwag daarin geslaag om op drie messe beslag te lê, asook ’n aantal dwelmmiddels en spuitnaalde.

Bellville loop die afgelope tyd erg deur onder allerlei soorte misdaad. Benewens die onlangse vlaag van inbrake, waar mense in hul huise vasgebind en beroof was, word die gebied ook lamgelê deur openbare dronkenskap en dwelmmisbruik.

“AfriForum se Bellville-buurtwag het die afgelope naweek besluit om iets daadwerklik te doen om misdaad te stuit en kwaaddoeners van die strate en uit woonbuurte te hou. Die SAPD kan nie alleen dié probleme takel nie, maar deur gesamentlike veiligheidsoperasies, wat verskeie rolspelers betrek, kan daar ’n wesenlike verskil in die gebied gemaak word,” sê Johan Fritz, lid van AfriForum se Bellville-buurtwag.

Lede van die publiek kan ook ’n verskil maak deur AfriForum se Bellville-buurtwag te ondersteun in hul pogings om misdaad hok te slaan. Skakel Fritz by 081 853 7451 of stuur ’n e-pos aan voorsitter.kaapstadnoord@afriforumtak.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings