AfriForum-buurtwag en Dibeng-inwoners fnuik inbreker se planne
Die AfriForum-buurtwag in Dibeng (Deben) het Dinsdag nog voor 08:00 vinnig en doeltreffend opgetree nadat lede van die gemeenskap opgemerk het dat ’n verdagte besig was om by ’n eiendom in die gebied in te breek.
Gemeenskapslede het onmiddellik die buurtwag ontbied en saam met die AfriForum-lede daarin geslaag om die verdagte aan te keer. Die vermeende inbreker is daarna sonder voorval aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) oorhandig. Die polisie ondersoek die saak verder.
“Hierdie voorval is weereens ’n bewys dat georganiseerde gemeenskapsveiligheid ’n verskil maak. Wanneer gemeenskappe en georganiseerde buurtwaglede saamstaan en betrokke raak, word misdaad ingeperk en ’n sterk boodskap word gestuur dat ons nie kriminaliteit sal duld nie,” sê Lize-Mari Smit, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo.
AfriForum se buurtwag in Dibeng bly daartoe verbind om die veiligheid van inwoners te verseker, sigbaarheid in die dorp te verhoog en saam met die SAPD te werk om misdaad hok te slaan.