|

AfriForum-buurtspan verwyder honderde sakke vullis in Krugersdorp

Die AfriForum-buurtspan in Krugersdorp, in samewerking met toegewyde gemeenskapslede, het in September meer as 250 sakke vol rommel en tuinvullis verwyder. Verskeie parke, sypaadjies, velde en padskouers is netjies gemaak. Hierdie skoonmaakprojek is ’n bewys dat georganiseerde gemeenskapsoptrede ’n positiewe impak op die stad het.

Van die gebiede wat skoongemaak is, is die veld by die Paul Kruger-standbeeld; die veld langs Spruit-substasie; die park op die hoek van Derde- en Bodensteinstraat; en die 5 km-lange sypaadjie en padskouer in Robert Broom-rylaan.

AfriForum het al herhaaldelik versoeke aan die Mogale City Plaaslike Munisipaliteit gerig vir gesprekvoering oor samewerking met betrekking tot skoonmaakprojekte en basiese dienslewering. Tot dusver het die munisipaliteit egter geweier om in gesprek met AfriForum te tree.

Volgens Stephanus Blignault, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Wes-Rand, is dit bemoedigend dat inwoners AfriForum se inisiatiewe ondersteun. “Die gemeenskap se betrokkenheid wys dat mense nie meer passief wil toekyk hoe hul dorp agteruitgaan nie. Saam kan ons werklik ’n verandering bewerkstellig, ongeag die munisipaliteit se onwilligheid om betrokke te raak,” sê Blignault.

AfriForum se Krugersdorp-buurtspan sal aanhou om saam met die gemeenskap ’n verskil te maak. Deur volgehoue optrede en gemeenskapsondersteuning bewys AfriForum dat burgerlike samewerking die sleutel is tot volhoubare verandering en ’n skoner, veiliger omgewing.

Besoek www.wordlid.co.za om vandag nog by jou naaste AfriForum-tak aan te sluit.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf