|

AfriForum beloof om EFF-plan vir vernietiging van Afrikaner-standbeelde teen te staan

Klankgreep: Ernst van Zyl (Afrikaans)
Klankgreep: Ernst van Zyl (Engels)

Die burgerregteorganisasie AfriForum beloof om alles in die stryd te werp om die EFF se veldtog vir die vernietiging van Afrikaner-standbeelde en -gedenktekens teen te staan. Die organisasie beskou die mosie wat die EFF-hoofsweep, Nontando Nolutshungu, vanoggend in die parlement voorgehou het namens die party se leier, Julius Malema, as ’n direkte aanval op die bestaansreg van Afrikaners in die land.

Nolutshungu het vanoggend die kwessie van “koloniale geheue en sy giftige simbole” aan die parlement voorgehou as deel van ’n versoek vir die vestiging van ’n parlementêre ad hoc-komitee wat die voortbestaan van “apartheidera-standbeelde en -gedenktekens in openbare ruimtes” moet ondersoek.

In die voorlegging voer sy onder meer aan dat genl. Louis Botha se standbeeld voor die parlement verwyder moet word en dat Botha “verheerlik word as ’n staatsman, terwyl hy in werklikheid ’n generaal van geweld was”. Oor die Paul Kruger-standbeeld in Pretoria voer sy verkeerdelik aan dat hy “arrogant sit by die Uniegebou”, en dat die standbeeld van Jan van Riebeeck in Kaapstad “die begin van koloniale verowering in 1652 vier”. Ook die Voortrekkermonument het onder skoot gekom van Nolutshungu. Die monument toring volgens haar uit oor die land se hoofstad as ’n “huldeblyk aan wit oppergesag” wat gebou is om “die sogenaamde beskawingsmissie van die Voortrekkers te verheerlik, terwyl hulle in werklikheid gewapende indringers was wat grond van Afrika-koninkryke gebuit het”.  

Nolutshungu het haar voorlegging afgesluit met ’n oproep op die parlement om die “onvoltooide vryheidstaak” af te handel en het die afbreek van dié “monumente van vernedering” en die vervanging daarvan met monumente van “ons eie helde” versoek.   

Volgens Ernst van Zyl, hoof van Openbare Betrekkinge by AfriForum, is Nolutshungu se oproep tot die verwydering en afbreek van monumente kenmerkend van die EFF se afbreekkultuur. “Politici wat bewys het dat hulle niks kan bou nie, soos die EFF, moedig bloot vernietiging en geweld aan. Omdat die EFF misluk het om selfs een beloofde skool te bou, fokus hulle nou eerder op beloftes vir die afbreek van standbeelde.”

Van Zyl waarsku egter dat die EFF se eise nie ligtelik opgeneem mag word nie. “Die verwydering van ’n deel van die gemeenskap se simbole, standbeelde en erfenis, is ’n onbeskaamde poging om dié groep se identiteit en reg om te bestaan, weg te stroop. Die geskiedenis bied talle voorbeelde van gevalle waar die fisieke onderdrukking van of geweld gemik op spesifieke gemeenskappe deur soortgelyke optrede voorafgegaan is. As daar volgens die EFF nie plek is vir beelde van Botha of Kruger of die Voortrekkermonument nie, is die plek van die Afrikaner ook in ernstige gedrang.”

AfriForum sal egter alles in die stryd werp om dié anti-wit haatveldtog teen te staan, sluit Van Zyl af.

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners