AfriForum 20 jaar: Onthou jy nog? #10 (2024–2026)
Deur Megan Swart
AfriForum het in Maart sy 20ste bestaansjaar gevier en in dié reeks neem ons ’n voëlvlug oor die afgelope 20 jaar se suksesse, mylpale én selfs ’n paar komiese oomblikke in die organisasie se bestaan. Dié en vele meer gebeure is vervat in ’n 20 jaar-gedenkboek wat binnekort verskyn.
2024: AfriForum hou “begrafnis” vir dienslewering in Parys
Dienslewering in Parys het onder die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit so vrot geraak dat die plaaslike AfriForum-tak in April 2024 ’n “begrafnis” vir dienslewering hier gehou het. In aanloop tot die “begrafnis” – uitgebeeld met ’n pikswart kis – het AfriForum verskeie kere probeer om afsprake met verteenwoordigers van die munisipaliteit te maak om die probleme in Parys en ander dorpe in dié munisipaliteit te bespreek. Lede van die AfriForum-tak in Parys het ná die begrafnis sommer moue opgerol en self inisiatief geneem. Stoptekens is opgerig by gevaarlike kruisings en randstene is in die hoofstraat geverf om dit netjies te laat vertoon.
2025: Teatergangers vreet Semi-Soet – die musiekblyspel op soos soetkoek
Byna 20 000 mense het die AfriForum Teater in 2025 besoek om Semi-Soet – die musiekblyspel, gebaseer op die geliefde en gelyknamige rolprent, te kyk. Dit was die eerste produksie ooit waarvan al 48 vertonings volledig in dié teater uitverkoop is. Jacomien de Wet en Johan Vorster het die musikale leiding van die stuk geneem, terwyl Bobby van Jaarsveld en Anel Alexander in die manlike en vroulike hoofrolle geskitter het. AfriForum Teater het ná dié suksesvolle musiekblyspel van krag tot krag gegaan en verskeie gesogte toekennings en benoemings opgeraap.
2026: Privaatvervolgingseenheid verseker dat geregtigheid bykans 10 jaar later geskied
Amper tien jaar ná Celeste Gouws in haar huis verkrag is, het geregtigheid uiteindelik vroeg in 2026 geskied toe haar aanvaller, Isaac Andile Memese, skuldig bevind is van verkragting en huisbraak en ’n vonnis van 20 jaar tronkstraf opgelê is. Dié vonnis volg danksy AfriForum se privaatvervolgingseenheid se toewyding en hulp aan Gouws. Memese het Gouws in 2017 verkrag, maar die hofsaak het eers begin ná die privaatvervolgingseenheid in Julie 2021 ’n nolle prosequi-sertifikaat bekom het.



