AfriForum 20 jaar: Onthou jy nog? #8 (2020–2021)
Deur Megan Swart
AfriForum het in Maart sy 20ste bestaansjaar gevier en in dié reeks neem ons ’n voëlvlug oor die afgelope 20 jaar se suksesse, mylpale én selfs ’n paar komiese oomblikke in die organisasie se bestaan. Dié en vele meer gebeure is vervat in ’n 20 jaar-gedenkboek wat binnekort verskyn.
2020: AfriForum nader VN oor drakoniese COVID-19-regulasies
AfriForum het in 2020 die regering by die Verenigde Nasies (VN) se hoë kommissaris vir Menseregte verkla oor die drakoniese regulasies en die gewelddadige afdwinging van die staat van inperking om die COVID-19-krisis te bekamp. Van die regulasies wat ingestel is, het die volgende behels:
- ’n verbod op oefening, wat stap en draf ingesluit het;
- ’n verbod op die koop van sekere kledingstukke; en
- ’n verbod op die koop van tuingereedskap, selfone, rekenaars, speelgoed, toebehore vir persoonlike higiëne en naaldwerk.
2021: Hof sê nee vir net Engels by Unisa
Die Konstitusionele Hof het in 2021 AfriForum se vyf jaar lange stryd vir Afrikaans as onderrigtaal by die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) tot ’n suksesvolle einde gebring. Dié hof het die Hoogste Hof van Appèl se bevinding gehandhaaf dat Unisa se destydse taalbeleid – wat slegs vir Engels as primêre medium van onderrig voorsiening gemaak het – ongrondwetlik was. Regter Steven Majiedt het tot die gevolgtrekking gekom dat daar ’n onegte weergawe van Afrikaans, die taal se ontwikkeling en heersende plek in die samelewing is wat reggestel moet word. Volgens Majiedt is die geskiedenis van Afrikaans veelvuldig in sy fasette, en kan die vestiging en bestaan van ’n taal nie net toegeskryf word aan een enkele rasgroep nie.
Hoewel die uitspraak slegs in Engels gelewer is, is dit in beide Afrikaans en Engels beskikbaar gestel. Dít het die impak van Majiedt se uitspraak soveel groter gemaak.



