Besliste optrede by Wolwespruit nodig anders skep dit kringloop van wetteloosheid, maan AfriForum
Ondanks uitgebreide pogings deur AfriForum en ander organisasies om onwettige besetters by die vleiland in Erasmuskloof te laat verwyder, blyk die onwettige storting in die gebied voort te gaan. AfriForum maan dat sou daar nie beslissend opgetree word nie, skep dit ’n presedent vir alle toekomstige pogings om onwettige besetters van eiendomme in Pretoria te laat verwyder en hervestig. Die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit het onlangs talle plakkers laat hervestig, maar binne dae het van dieselfde én nuwe individue weer hulself in die gebied gevestig.
“Indien die metro nie vinnig teen hierdie oortreders optree nie, skep dit ’n kringloop waarin ’n paar onwettige besetters vinnig in ’n amper onhanteerbare groep verander wat afval en bourommel in ’n gebied stort wat ekologies sensitief is,” sê Llewellyn Hemmens, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Noord.
“Die gevolge van die metro se versuim om wet en orde te handhaaf veroorsaak dat onwettige nedersettings groei, misdaad toeneem en omgewingsbesoedeling ’n permanente realiteit word. Die metro laat wetsgehoorsame burgers effektief in die steek in die stryd teen wetteloosheid.”
AfriForum het daarom ’n dringende beroep op die Tshwane-metro gedoen om:
- dadelik en deurlopend die Wolwespruit-vleiland skoon te maak;
- gereelde patrollies uit te voer om verdere besetters en onwettige storting te voorkom;
- strafregtelike stappe teen oortreders te doen; en
- samewerking met gemeenskappe en burgerlike organisasies te versterk om te verseker dat die gebied veilig en onbesoedel bly.
“Ons kan nie toelaat dat ’n beskermde vleiland in ’n stortingsterrein en spilpunt vir misdaad verander nie. Indien die metro nie daadwerklik optree nie, gaan hierdie probleem net weer en weer opvlam en elke keer groter gevolge vir inwoners en die omgewing inhou,” sê Hemmens.
AfriForum doen ’n beroep op die gemeenskap om waaksaam te bly en enige onwettige storting of oprigting van strukture onmiddellik te rapporteer. Dit is slegs deur samewerking dat die kringloop van wetteloosheid en agteruitgang verbreek sal word.
Besoek www.wordlid.co.za om vandag nog by dié organisasie betrokke te raak wat vír geregtigheid en téén agteruitgang veg.