| |

Hamer-aanval: AfriForum se Bothaville-buurtwag lewer reusebydrae om vermeende verkragter aan te keer

Die AfriForum-buurtwag in Bothaville het ’n reusesukses behaal toe hulle gister (6 Augustus) die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) gehelp het om ’n vermeende verkragter aan te keer. Die verdagte het na bewering Saterdag, 26 Julie ongeveer 11:20, ’n vrou in Bothaville met ’n hamer oor die kop geslaan en haar verkrag.

Die buurtwag het op 26 Julie reeds met behulp van beeldmateriaal die verdagte aan sy gesteelde, bebloede baadjie uitgeken. Die verdagte is toe al aangekeer en na die SAPD Bothaville geneem vir ondervraging. Volgens die polisie was dit egter omstandigheidsgetuienis en hulle het gemeen dat daar baie mense met dieselfde baadjie kon wees. Die verdagte is daarna vrygelaat.

Die baadjie is Dinsdag (29 Julie) deur ’n vrou as haar eie geëien. Volgens haar kon daar nie iemand anders in Bothaville met hierdie baadjie wees nie, aangesien sy dié baadjie uit Europa laat invoer en die baadjie is na bewering vroeër by haar gesteel.

Die buurtwaglede het nóg iemand naby die huis, waar die voorval plaasgevind het, gekry wat getuig het dat iemand kort ná die voorval daar verbygeloop het en dat hy na bewering bebloed was en vir water gevra het om sy arm te was. Hy is ook deur die persoon positief as die verdagte geïdentifiseer.

Die buurtwagleier, Dolf Meyer, het in reaksie op ’n radioberig vir inligting oor die saak ’n ondersoekbeampte in Welkom geskakel wat toe met die ondersoek begin het. Die ondersoekbeampte het gister, 6 Augustus, na Bothaville gereis om met Meyer se hulp die verdagte aan te keer. Die verdagte is om 14:22 in Kgotsong gearresteer en aangekla. Die verdagte sal na verwagting Vrydag in die hof verskyn.

Die slagoffer sterk tans in die Mediclinic Welkom aan.

“Ek is oortuig daarvan dat elke vrou in Bothaville baie dankbaar is teenoor Meyer en die res van die buurtwag wat hom ondersteun het, wat nie bereid was om hierdie saak te laat gaan nie. Dit is ook goed om te hoor dat die slagoffer vordering wys op haar herstelpad. Dit maak die goeie werk van die buurtwag nog meer merkwaardig en almal hoop dat geregtigheid sal geskied,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Raak by die AfriForum-buurtwag in Bothaville betrokke en help om jou omgewing veilig te hou. Kontak vir Dolf Meyer by 073 810 9568 om aan te sluit.

Soortgelyke plasings