AfriForum begin met landswye blou- en groendruppelprojek
AfriForum het vandag met sy nasionale blou- en groendruppelprojek begin as deel van dié organisasie se jaarlikse #Skoonwater-projek. Tydens hierdie projek mobiliseer AfriForum-takke van oor die land heen om gedurende Augustus munisipale drink- en rioolwatergehalte te toets.
Die doel van AfriForum se projek is om die kollig te plaas op die land se dreigende waterkrisis. Die burgerregte waghond gaan weer in 2025 ’n belangrike moniteringsfunksie vervul deur die gehalte van bykans 160 dorpe se drinkwater en verwerkte rioolwater te toets en die uitslae daarvan in ’n omvattende verslag bekend te maak.
“Indien ons toetse aandui dat daar nie aan die voorgeskrewe standaarde voldoen word nie, sal AfriForum verseker dat gemeenskappe onmiddellik van enige gevare in kennis gestel word en die betrokke munisipaliteit aanmaan om so gou as moontlik die probleme op te los,” sê Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake.
Die eerste watermonsters vir vanjaar se blou- en groendruppelprojek is vandag onderskeidelik by die Hammanskraal SAPD en die Rooiwal-rioolsuiweringsaanleg geneem en getoets. Die uitslae van hierdie toetse sal na afloop van die projek bekendgemaak word.
AfriForum verwelkom ook die Departement van Water en Sanitasie (DWS) se positiewe terugvoer rakende die projek, wat erkenning gee aan dié organisasie se waardevolle bydra en verbintenis tot die verbetering van water- en sanitasiedienslewering.
Die DWS se eie verslae, wat mees onlangs in November 2023 bekend gemaak is en weer aan die einde van die 2025/2026 finansiële jaar uitgereik gaan word, het die uiters swak toestand van Suid-Afrika se natuurlike waterhulpbronne en die verval van waterinfrastruktuur regoor die land duidelik gemaak. Van die skokfeite sluit in:
- 46% van al die drinkwater wat in die land voorsien word, voldoen nie aan mikrobiologiese standaarde vir veilige gebruik deur mense nie. Verder is 28% van die land se drinkwatervoorsieningstelsels in ’n kritieke toestand en staan op die punt om geheel en al op te hou funksioneer.
- Slegs 15% van rioolsuiweringsaanlegte in die land behandel riool tot voldoende standaarde om veilig in die omgewing vrygestel te word. Boonop is 67.6% van alle rioolsuiweringsaanlegte in die land in ’n hoë- of kritiekerisikokategorie en staan op die punt om geheel en al op te hou funksioneer.
Die gevolg is dus dat die kwaliteit van die oorgrote meerderheid van gemeenskappe in die land se drinkwater en verwerkte rioolwater in gedrang is.
“Omdat ons riviere met rou- of gedeeltelik verwerkte riool besoedel word, word ideale toestande vir die verspreiding van wateroordraagbare siektes soos cholera geskep. Die einste besoedelde riviere is ook die bron van meeste gemeenskappe se drinkwater. Hoewel hierdie besoedelde rivierwater gesuiwer moet word voordat dit as drinkwater aan gemeenskappe voorsien kan word, skep die swak toestand waarin ’n beduidende aantal drinkwaterstelsels verkeer, ’n wesenlike risiko dat Suid-Afrikaners aan onveilige drinkwater blootgestel kan word. Dit kan ernstige bedreigings vir hul gesondheid inhou,” waarsku De Vaal.
“Die mislukkings van plaaslike regerings om betroubare water- en sanitasiedienste te lewer lê aan die kern van ons waterkrisis. Omdat die publiek nie meer vertroue in die regering se diensleweringsvermoë het nie, toets ons watergehalte self sodat gemeenskappe ingelig kan bly oor die veiligheid, al dan nie, van hul drinkwater en waterhulpbronne,” voeg Lambert de Klerk, bestuurder vir Omgewingsake by AfriForum, by.



