|

AfriForum-buurtwag in Songloed loop die ekstra myl vir dié inwoners

Die AfriForum-buurtwag in Songloed, wat die gemeenskap van Klerksdorp getrou dien, het die afgelope tyd die ekstra myl geloop om dié gebied teen boewe én verwoestende brande te beskerm.

Die buurtwag het sewe van sy lede vir opleiding gestuur om brande in die gebied te help blus. Dít wat die lede tydens die opleiding wys geword het, moes bykans onmiddellik in praktyk toegepas word toe hulle slegs ’n entjie van die opleidingsgebied gehelp het om ’n motor en die omliggende veld wat aan die brand geraak het, te blus. Romke de Jongh, buurtwagleier en trauma-vrywilliger, kon ook die insittendes van die voertuig bystaan.

Dit is egter nie al wat dié AfriForum-tak die afgelope twee weke vermag het nie. Die vier veiligheidskameras wat AfriForum onlangs in Songloed opgerig het en wat deur die veiligheidsmaatskappy Action Force gemonitor word, het tot verskeie inhegtenisneming gelei.

Verdagte aktiwiteite, wat op een van die kameras opgemerk is, het Action Force genoop om ’n reaksievoertuig te ontbied, waar daar op ’n verdagte afgekom het, wat vermoedelik by ’n rooftog betrokke was. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) is ontbied en die verdagte is in hegtenis geneem. Die polisieondersoek duur voort.

In ’n afsonderlike voorval in die vroeë oggendure is twee verdagtes op die kameras opgemerk. Action Force se beheerkamer het dadelik twee reaksievoertuie ontbied en die verdagtes met al die nodige toerusting om by ’n woning in te breek, betrap. Die SAPD het die verdagtes in hegtenis geneem en ondersoek die saak verder.

“Dit is verblydend om te sien watse goeie werk hierdie buurtwag onder die leiding van sy buurtwagleier, Romke, en die onderskeie buurtkoördineerders doen. Hulle is altyd bereid om te help,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

“Die kameras wat AfriForum in die buurt opgerig het en die doeltreffende montering daarvan, maak beslis van Songloed een van die veiligste buurte in Klerksdorp. Die opleiding in brandbestryding maak dié buurtwag nóg meer paraat, aangesien hulle reeds ’n vuurvegter het om tydens die brandseisoen in te span.”

Kontak Henda Jordaan by 082 783 5272 om by AfriForum se Songloed-buurtwag in Klerksdorp aan te sluit.

Soortgelyke plasings