AfriForum Jeug vorm leiers van die toekoms
AfriForum Jeug se jaarlikse mentorskapprogram is die afgelope week aangebied vir toekomstige leiers van oor die hele land heen. Twaalf studente van onder meer die Universiteit van die Vrystaat, Universiteit Stellenbosch, die Universiteit van Pretoria, Noordwes-Universiteit en Akademia het dié week lange mentorskapprogram bygewoon.
“Die meerderheid van die deelnemers is reeds by AfriForum se strukture ingeskakel. Ons identifiseer gewoonlik tydens die jaarlikse AfriForum Jeug-kongres kandidate wat ons uitnooi om die mentorskapweek by te woon, maar ons oorweeg ook jongmense en studente wat nie noodwendig by die jeugkongres was nie,” verduidelik Yvonne Gerber, jeugbeampte vir Ontwikkeling by AfriForum Jeug.
“Die doel van die mentorskapprogram is om studente te bemagtig en bloot te stel aan die werksomgewing. Ons wil ook hul leierskapsvermoë ontwikkel en selfvertroue in ons jongmense opbou. ’n Mentor word vir elke deelnemer aangewys en elk van laasgenoemde moes aan die begin van die week sy of haar doelwit vir die week neerskryf.”
Tydens die week word daar op verskeie eienskappe van leierskap gefokus. Afrikanerkultuur, -erfenis en taal word as vertrekpunt gebruik. Daarom skop die program juis af met ’n besoek aan die Voortrekkermonument se Toekomsbou-museumteater wat die geskiedenis op ’n kleurvolle en interaktiewe manier lewe gee. Deelnemers het die teaterbesoek opgevolg deur ’n nag in ’n ossewa deur te bring. Hulle het ook verskeie werkswinkels by die AfriForum-hoofkantoor in Centurion bygewoon waar hulle oor onder meer die organisasie se selfdoen-benadering geleer het en woordvoerderopleiding ontvang het.
Dié week het ook aan die span die geleentheid gebied om praktiese ondervinding op te doen en self hande vuil te maak deur by AfriForum-projekte in onder meer Limpopo, Noordwes en Mpumalanga in te skakel. Hulle het in drie groepe verdeel en by plaaslike AfriForum-takke ingeskakel om eerstehandse kennis van dié takke se bedrywighede op te doen. Tydens dié besoeke het deelnemers onder meer gras gesny, slaggate herstel en selfs ’n watersuiweringsanleg besoek. Die week se verrigtinge is afgesluit met drie proefmediakonferensies waartydens kandidate se vernuf as woordvoerders getoets is.


Die week se deelnemers is dit eens dat hulle baie geleer het. Kristo Voulgarelis sê hy het baie van AfriForum geleer en weet nou waar om vir hulp aan te klop. Mela Botha se doel vir die week was om meer vasberade te wees en sy meen sy het grootliks in haar doel geslaag om te leer om deur te druk, selfs al loop alles nie voor die wind nie.
“Ek het groot hoop vir hierdie ongelooflike groep jongmense. Ek sien hulle as die leiers op hul onderskeie kampusse en eendag in hul werksplekke. Hulle gaan nog ’n groot verskil maak waar hulle hul ook mag bevind,” sluit Gerber af.