AfriForum herstel gat voor Bethlehem-laerskool ná munisipaliteit se versuim
Die buurtspan van die AfriForum-tak in Bethlehem het op 30 Junie die Dihlabeng Plaaslike Munisipaliteit se werk voltooi deur ’n reuse-gat voor die Laerskool Truida Kestell in Wesselstraat te herstel. Dié gat het die afgelope paar maande groot frustrasie onder ouers en personeel veroorsaak. Die munisipaliteit het in Februarie vanjaar die gat in die pad gegrawe om ’n waterlekkasie te herstel maar het egter versuim om die gat weer toe te maak. Ondanks die talle klagtes, briewe en desperate versoeke aan die munisipaliteit om die gat te herstel, is die gemeenskap se noodkreet geïgnoreer.
Die AfriForum-tak het 1 000 kg teer gebruik om die reuse-gat te vul. Benewens die herstelwerk aan hierdie gat, het die buurtspan slegs in Junie 5,8 ton teer gebruik om slaggate oor die dorp heen te herstel en 3 km se seëlwerk aan paaie te doen.
Die verligting was egter kortstondig, want net enkele meters van die herstelde gat het die Dihlabeng-munisipaliteit op 3 Julie wéér ’n massiewe gat gelaat ná nog ’n waterlekkasie herstel is. Hierdie nuwe gat van 1 meter diep en 2,5 meter wyd, versper ’n hele eenrigtingbaan voor die laerskool. Kragdrade is sigbaar en daar is geen versperrings om te keer dat kinders of motors in die gat beland nie. Die munisipaliteit swyg oor wanneer dit herstel sal word.
Hierdie verwaarlosing van Bethlehem se paaie skilder nie net ’n onooglike prentjie nie, maar skep ook ’n lewensgevaarlike situasie vir voetgangers – veral kinders – en voertuie. Die finansiële las word nou op die gemeenskap geplaas, wat self fondse moet insamel om die munisipaliteit se werk te doen. Dit is onaanvaarbaar dat inwoners gedwing word om vir basiese infrastruktuur te betaal wat die munisipaliteit behoort te onderhou.
“Dit is skreiend dat inwoners nie net slaggate in hul eie woonbuurte moet herstel nie, maar nou ook moet opdok vir die chaos wat die munisipaliteit self veroorsaak,” sê Christa Ikking, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland.
As die munisipaliteit nie binne die volgende sewe dae optree om die herstelwerk aan hierdie slaggat en ander uitstaande herstelwerk aan te pak nie, sal die gemeenskap geen keuse hê as om self weer in te gryp nie. Die kostes van hierdie self-georganiseerde herstelwerk moet van die munisipaliteit verhaal word. Die Bethlehem-gemeenskap verdien beter – en hulle is gereed om daarvoor te veg.

